terug
Lus vir ‘n bekgeveg?
Haas jou dan op 1 Oktober na die ATKV se verhoog by Aardklop vir Oopmond, ‘n bekgeveg soos min. Die bestanddele vir hierdie ongewone stuk teater is eenvoudig: ses digters, vier musikante en ‘n op-en-wakker gehoor.
Die resep is ewe eenvoudig, maar beloof om te sorg vir hope woordpret. Drie digters en twee musikante neem as groep deel teen ‘n soortgelyke span digters en musikante. Die digters kry ‘n tema (bepaal deur die gehoor) en moet dan ‘n gedig oor daardie tema voorlees. Een van die drie kry tien minute om ‘n gedig te skryf oor ‘n nuwe tema, wat ook deur die gehoor bepaal word.
Uit hierdie drie gedigte moet die gehoor dan hul gunsteling kies, en dan kry die musikante slegs 10 minute waarin hulle die gedig moet toonset. Terwyl hulle hiermee besig is, kry die tweede span musikante en digters hul kans op glorie met ‘n splinternuwe rondte slam poetry volgens ‘n tema wat weer deur die gehoor bepaal word.
Die getoonsette gedig van hierdie span word ook gespeel, en die gehoor moet weer kies. Na drie rondtes van bekgevegte tussen die twee spanne word die finale wenner aangekondig. Die wenspan is die span wat die meeste punte gekry het vir gedigte sowel as toonsettings.
Digters wat deelneem is Jo Prins, Andries Bezuidenhout, Ronel Nel, Johannes van Jerusalem (Christo van Staden), Danie Marais en Rene Bohnen. Musikante wat hul slag gaan wys, is Riku Lätti, Brenda Burnit en Nardus du Plooy en Jaco Lotter (beide van Die Kaalkop Waarheid).
Oopmond word met trots geborg deur die ATKV, en vind plaas op 1 Oktober van 18h00 tot 20h00. Moet dit nie misloop nie!
|