Registrasie & intekening sal binnekort weer beskikbaar wees

 terug

  Bekende tenoor Kobie van Rensburg te sien by Aardklop
Kobie van Rensburg is sonder twyfel ’n gerekende internasionale tenoor, wat nie net spesialiseer in die veld van die vroeëre operas van Rossini nie, maar ook wêreldwyd bekend is vir sy uitvoerings in die repertorium van ’n ouer vokale era – die Renaissance, die Barok, die Klassieke en die Romantiese periodes.

Hy is een van die groot name betrokke by vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees, wat van 29 September tot 3 Oktober in Potchefstroom gehou word.

Onder leiding van sy leermeester, prof. Werner Nel, hoof van sangopleiding aan die destydse Puk (nou die Noordwes-Universiteit), het hy sy plaaslike professionele operadebuut gemaak op die ouderdom van twintig en ook verskeie plaaslike pryse ingepalm (hy is onder meer aangewys as die wenner van die konsertafdeling in Unisa se Internasionale Sangkompetisie in 1994). Kort daarna het hy na München verhuis waar hy sy studies onder prof. Hanno Blaschke voortgesit het.

Binne ’n enkele paar jaar het hy ’n bekende naam geword in die mediumgrootte operahuise in Europa, terwyl hy sy opera- en operette-repertorium uitgebrei het wat meer as dertig hoofrolle insluit, wat wissel van vroeëre Monteverdi-operas tot werke van Wagner en Verdi, sowel as Johann Strauss en Lortzing. Wat betref die twintigste eeuse opera het hy hom ingegrawe in die rol van Quint in Benjamin Britten se Turn of the Screw. Hy het al gesing in die Metropolitan Opera, New York, in Kaïro, Buenos Aires (Teatro Colon) en Kopenhagen.

’n Paar van die spesialisdirigente waarmee hy saamgewerk het, sluit in René Jacobs, sir John Eliot Gardiner, Christophe Rousset, Christopher Hogwood en Thomas Hengelbrock.

Van Rensburg, nou ’n medeprofessor by die Noordwes-Universiteit (NWU), is ten nouste betrokke by die 2de Internasionale Sangsimposium wat tans by die NWU aangebied word en sy artistieke veelsydigheid sal ten toon gestel word in drie klassieke programme wat op 29 en 30 September en 3 Oktober by Aardklop aangebied word..

Musiekstudente van die NWU, begelei deur Europese Barokspesialiste, kan gehoor word in Madrigali guerrieri et amorosi, saamgestel en geregisseer deur Van Rensburg. Hy het madrigale uit Monteverdi se Boek 7 en 8 sowel as sy nagelate Scherzi musicali saamgevoeg om ’n “pasticcio” te vorm wat dramaties saamhang. Gehoorlede sal agterkom dat Monteverdi al lankal al besef het dat die manne van Mars kom en die vroue van Venus… Dit word aangebied op 29 September om 20:00 in die Konservatorium.

’n Uitvloeisel van die meestersklasse wat Van Rensburg gedurende die internasionale simposium aanbied, is die program Lasciatemi morire.Met Hans Huyssen as dirigent word madrigale vir vyf stemme uit Boek 4, 5 en 6 van Monteverdi uitgevoer, met Van Rensburg as fasilliteerder. Dit word op 30 September om 20:00 in die Konservatorium aangebied.

Il Caro Sassone is ongetwyfeld die hoogtepunt van die week se aktiwiteite. Die titel van die program (“The Beloved Saxon”) verwys na George Frederic Handel, wie se dood 250 jaar gelede wêreldwyd gedenk word. Die program sluit van Handel se dikwels hartverskeurende opera-arias vir tenoor en kontratenoor in.

Die Fons Partita Barok-ensemble van Europa sal die sangers begelei, waaronder ook die wêreldbekende Amerikaanse kontratenoor Lawrence Zazzo. Dié program sal aangevul word deur multimedia-projeksies. Van Rensburg is die regisseur van Il Caro Sassone en Suid-Afrikaners sal ook die seldsame geleentheid kry om hom te hoor sing as hy die verhoog betree om ’n enkele aria te sing. Dit word aangebied op 3 Oktober om 17:00 in die Sanlam-ouditorium.

Kaartjies vir al die konserte kan bespreek word deur Computicket.