Registrasie & intekening sal binnekort weer beskikbaar wees
 terug

  Aardklop gereed om die afrikaanse kunstefees te herdefinieer

Vandeesmaand se aanstelling van Andries Vrey (33) as feesbestuurder en uitvoerende hoof van die Aardklop Nasionale Kunstefees, is die eerste stap in die implementering van die Direksie se nuwe strategie vir die Fees.

“Andries sal die dryfkrag wees om Aardklop te lei om Suid-Afrika se toonaangewende, mees toeganklike en volhoubare kunstefees van uitstaande gehalte te wees,” sê prof. Annette Combrink, Voorsitter van die Aardklopdireksie. “Hy het al die kwaliteite wat nodig is om die Fees, met die ondersteuning van ‘n entoesiastiese bestuurspan en ‘n aktiewe direksie, na ‘n volgende prestasievlak te neem.” Andries, ‘n voormalige media-en bemarkingsbestuurder van Aardklop, is tans die algemene bestuurder verantwoordelik vir die strategiese ontwikkeling en bestuur van alle Afrikaanse digitale produkte binne die DStv Online/Multichoice-stal, asook die aanlyn video-intekendiens, KuduClub.com. Hy het ook ondervinding as die bestuurder van digitale korporatiewe kommunikasie in Media24, redakteur vir aanlyn- en selfoonpublikasies in Rapport/RCP Media en redaksionele hoof van M-Net se betrokkenheid by nuwe media.

Vrey is reeds vir baie jare betrokke in die kunstewêreld waar hy as vryskut dramaturg en akteur nie alleen verskeie produksies op die planke gebring het nie, maar hom ook gereeld as kundige uitspreek in artikels, resensies en rubrieke. Hy het ‘n BA-graad in kommunikasie en drama (met lof) van die Universiteit van Pretoria, asook ‘n diploma in gevorderde joernalistiek van die London School of Journalism.

"Die geleentheid om Aardklop in 'n nuwe fase in te lei is 'n groot uitdaging en voorreg. Ek sien uit daarna om met die direksie en feesbestuur kragte te snoer om Aardklop se posisie te verstewig as leidende fees van gehalte én innovasie. Dis 'n nuwe fase vir my, Aardklop en die uitvoerende kunste in Suid-Afrika," sê Vrey.

Aardklop vind vanjaar vanaf 28 September tot 2 Oktober in Potchefstroom plaas. Potchefstroom is maklik toeganklik vir die die hele PWV-gebied en trek feesgangers van regoor die land wat die kunste in ‘n veilige, landelike omgewing wil geniet.

“Planne vir vanjaar se fees is goed gevorder. Ons beoog om talle produksies aan te bied wat hul eerste buiging op Aardklop gaan maak”, sê Prof Combrink. einde


Uitgereik deur: Amanda Singleton
Direksielid: Aardklop
Tel 082 855 0465
e-mail: amanda@mmopa.co.za