SPOKE, DIEWE EN DIGTERS

Die verlede spook by ons almal, dit is ’n dwaalgees wat in stilte sy hande na ons uitstrek.

In een hand hou ons die ou stene waarop ons stuk- stuk voortbou. In die ander is ’n digte sluier wat ons omhul sodat jy my nooit regtig kan leer ken nie, maar hierso, vat dit in elk geval. Vat te veel en jy is bloot ’n dief, gedoem om die verlede te herhaal, te min, en jy skep monsters uit onkunde en pure hubris.

So word die fyn grys lyn wat onderskei tussen spoke, diewe en digters opnuut getrek met die skep van elke nuwe kunswerk.

Jean Genet het hierdie speletjie alte goed geken. Die dief en die digter wat eens in flenters rondgedwaal het op soek na ’n huis, ’n plek om sy eie te noem. Vandag nog beduie die ou gesaligde met sy lang vingers die donker in asof om te vra, watse soort wêreld wil julle hier bou?

Aan wie sal dit behoort? En wie sal net nog ’n vreemdeling daarin bly?
Hierdie jaar is Spoke, diewe en digters die oorkoepelende titel van die visuele kunste by Aardklop 2018.

Die tema lewer kommentaar op die kreatiewe proses asook die belangrike rol wat kunstenaars in ons samelewing vertolk. Vandag is kunstegnieke soos die gebruik van verkreë objekte en geskrewe teks alombekende strategieë om kontemporêre kunswerke te skep en sosiale kommentaar te lewer.

Ons weet ook dat die groot modernistiese mite van die kunstenaar as geïsoleerde individuele genie die produk van baie spesifieke ideologieë was. Die uiterse belangrike rol van kreatiwiteit, die poëtiese en die kunstenaar se stem in die groter samelewing, blyk weer opnuut belangrik. Ons woon in ’n globale wêreld waar die grense tussen ons almal weer opnuut getrek word in definitiewe lyne. Almal blyk onversetlike opinies en idees te hê. Dit is hier waar kunstenaars moet stem dik maak deur hulle visies en drome vir die toekoms en die verlede konkrete vorm te gee.

Elk van die verskeie uitstallings wat deel uitmaak van Aardklop 2018, draai op sy eie manier die wêreld op sy kop en bied unieke invalshoeke oor ons elkeen se plek en rol in die samelewing.

Daar is ’n fees van visuele kunswerke van regoor die wêreld, onder meer die werk van ons feeskunstenaar Diane Victor (Pretoria/ Johannseburg), solo-uitstallings deur Liza Grobler (Kaapstad) en Donald Wasswa (Uganda), en verskeie opwindende groepuitstallings met werke van jong en bekende kunstenaars soos Sharon Morris (Brittanje), Willem Boshoff, Shenaz Mahommed, Dylan Garham, Frikkie Eksteen, Avi Sooful en nog vele meer.

Hierdie jaar is ook die afloop van “Saamklop 2017”, Aardklop se gemeenskapskunsprojekte-fokus wat reeds verlede jaar begin het met die deelname van Artist Proof Studio, Bag Factory, Found Collective, Nirox Foundation, Centre For the Less Good Idea, en Keleketla!

Die visuele kunste gaan gepaard met ’n spesiale program van Afrikaanse musikante uit Pretoria, wat musikale spookstories kom vertel.

Bacchus Nel, Die See en nuwelinge Blinkruiter kom bymekaar om Afrikaans te laat goël soos min. Die program bied ook ’n uitstalling van geskilderde portrette deur Ronel Kellerman, waarin ons land se mees bekende sanger- digters op doek vasgevang word.

Dr Johan Thom
Senior Lektor: Skone Kunste, Universiteit Pretoria