Amanda Strydom val die mure om mens se hart aan

Charlene Colling

“Elke pot het sy deksel, of so sê hulle. Ek glo dat jy slegs ’n deksel kry, mits hy by jou letsels pas. My letsels máák my!”

Amanda Strydom val die mure om mens se hart aan en dwing jou om te voel. Om te onthou. Om te waardeer. Oor berge en dale en stadig oor die klippers.

Sy deel ’n kosbare ervaring in Parys (Frankryk), Bastille-dag jare gelede. Haar soektog na Edith Piaf se graf in die Père Lachaise-begraafplaas om eer te betoon aan haar ikoon, ten spyte van ’n heupvervanging. Dan voer sy jou weg na Parys met ’n verwerking van Piaf se “Notre-Dame de Paris”.

Sy ontbloot haar hart met ’n kosbare staaltjie oor hoe Ralph Rabie (Johannes Kerkorrel), ’n  boesemvriend, in die somer van 1992 haar mening wou hê oor ’n nuwe liedjie. Sy trek weg en sing “Hoe ek voel”, en vir ’n oomblik is ’n mens daar in sy woonstel in Johannesburg en dit is asof jy hom in die agtergrond hoor sing.  Haar huldelied, “Ek het gedroom”, word hartroerend vertolk en jy kan nie help om ’n traan te stort as sy vir hom ’n soen hemel toe stuur nie.

Met ’n vere-serp en ’n tulband verander sy in ’n magiese sangeres wat die troepe op die grens aanpor. In ’n kort monoloog verander sy in ’n dronk goddelose sigeunerin wat haar gehoor laat skaterlag.

Coenraad Rall begelei haar nie net pragtig op die klavier nie, maar val selfs in en sing saam in ’n heerlike komiese lied.

Amanda Strydom vier haar mondigwording by Aardklop, sy bring hulde aan die legendes wat haar gevorm het en bewys haar dankbaarheid teenoor die Here in haar slotlied, “Pelgrimsgebed”. Só sê saggies pasop – dat jy versigtig te werk moet gaan met woorde wanneer jy met jou medemens praat. As gehoorlid kan jy nie anders as om te luister nie.

Met: Amanda Strydom en Coenraad Rall (pianis)

kykNET Konservatorium | 5 Okt 19:00 | 6 Okt 13:00 | R150 70min, Musiekteater, Geen o/10, Afr, Eng, Frans

Kaartjies by Ticketpro:
5 Okt 19:00 KLIK HIER
6 Okt 13:00 KLIK HIER