DEUR die droogte na die onthaal

Ruan Fourie

Die verwerker van die uiters suksesvolle Die reuk van appels, Johann Smith, keer terug na Aardklop met (onder meer) ’n teks getitel Vier, wat saam met Braam van der Vyver se Droogas Pakket A van DEURnis 20-voor-2aangebied word.

Die gehoor van veertig word verdeel en elke groep kyk een van die twee, waarna hulle dan omruil en die ander produksie bywoon.

Droog begin redelik kineties, met die gehoor wat stap om emmers te gaan haal, vanwaar ’n mens verder stap na ’n kraan op die perseel waaraan André Lotter se karakter Hendri besig is om te karring. Hy roep vir Vincent (Drikus Volschenk), wat in die kar gesit het, en hulle spreek in ’n mate dan die gehoor aan oor die riglyne aangaande aansoeke om water, omdat Dag Zero in die Wes-Kaap aangebreek het.

Etlike gehoorlede (oftewel aansoekers) ontvang hul emmers water. Dit neem egter ’n rukkie, want die komiese gestryery tussen Vincent en Hendri vertraag die keuringsproses van aansoeke – ’n herkenbare dog skreeusnaakse onprofessionaliteit wat by tye verwysings na korrupsie, misdaad en ander verskynsels insluit, wat die troebel Suid-Afrikaanse konteks tipeer. Hierdie satire is ’n absolute vreugde.

Vier behels ’n huweliksherdenking met, by aanvang, indrukwekkende geïmproviseerde geselsies tussen die twee spelers en die “familie” wat by die funksie aankom. Berdene Burger se spel in dié produksie is veral noemenswaardig, en dis opreg ’n emosionele ervaring om te sien hoe die een heilige olifant in die kamer ná die ander saam met Jacques Adriaanse se karakter geslag word. Én hoe plofbare ou koeie opgegrawe word.

Wat dié produksie verder indrukwekkend maak, is die klein dingetjies: ’n Voorgereg wat aan die gehoor bedien word; water en sap op die gedekte tafel; en, spesifiek aangaande die teks self, aparte spreekbeurte – hartsake wat nou met die familie bespreek word – wat aan aparte kante van die lokaal gevoer word.

DEURnis 20-voor-2is ’n opwindende uitbreiding van die oorspronklike een-tot-een-teaterprojek wat in 2017 aangebied is, en nes die pakkette van DEURnisbied dit ’n gebalanseerde (en steeds opwindende) balans, met sowel vrolike en dalk ongemaklike temas en gebeure om oor na te dink.