Elvis Blue deel sy menswees – die intieme en die jolige

Jené Liebenberg

Elvis Blue tel sy kitaar en mikrofoon op om stories te vertel, nie net sy eie nie, maar ook dié stories wat hy wens aan hom behoort het. Die begin is intiem, met net Elvis Blue en ’n enkele kitaarspeler op die verhoog. Hy neem die gehoor terug na sy jong dae met treffers soos “Lady in Red”, elke lied vertel sy storie, maar dra ook ’n eie ervaring van Elvis Blue binne die note en woorde.

Daarna begin wat voel soos die “eintlike vertoning” met die liedjies wat hom naaste aan die hart lê, dié uit sy eie pen. Die verhoog is in ’n oogwink vol musikante en die intieme gevoel van net ’n paar oomblikke gelede is vergete. Daar is ’n dadelike verandering in die stemming en die opgewondenheid spoel oor van die verhoog tot in die gehoor.

Die musikante is nie net deel van die agtergrond nie – hulle leef hulle in en het pret, wat spreek van hul passie vir die musiek. Die kunstenaar betrek ook die gehoor in sekere liedjies en moedig die gebruik van kameras vir sosiale media aan.

Elvis Blue en sy span lewer ’n afgeronde vertoning waarin die gehoor op ’n reis van stories (of liedjies) geneem word, wat hom die sanger en kunstenaar gemaak het wat hy vandag is. Dit is intiem en persoonlik, maar ook lewendig en jolig.