Indrukwekkende Chameleon in sy Boo!-gedaante

Ruan Fourie

Laringitis of te not – Chris Chameleon staan reg om geraas te maak.

In Chris Chameleon – ’n Boo!tiful geraas is dit soos ’n ou vriend wat by jou huis opdaag en met wie ’n mens ’n vorige gesprek van maande gelede net so hervat. Dit is vanjaar op 31 Oktober die mondigwording van die band Boo! met hul eiesoortige musiek, wat hulle monki-punk gedoop het. Ongelooflike ervarings tydens die band se ontwikkeling word in anekdotes met die gehoor gedeel.

Die vertoning is energiek en passievol, en dis duidelik dat Chameleon en die tromspeler Riaan van Rensburg in die wieg gelê is om hul onderskeie instrumente te speel. Die tegniek waarmee die baskitaar én die tromme gespeel word, is by tye so indrukwekkend dit neig na verwarrend, en dit klink of daar drie tot vier band-lede op die verhoog is, in stede van net twee.

Chameleon vertel onder meer by wie hy geleer het om ’n rok te dra, hoe ongesofistikeerd sy grimering eintlik was en hoe hul eerste treffers tot stand gekom het. Dit is veral interessant hoe anders ’n mens ’n liedjie beleef as jy weet waar of hoe dit geskryf is, of wat die inspirasie daarvoor was.

Die dinamiek tussen die twee musikante is spesiaal, om die minste te sê, en die gehoor word gelaat met mooi herinneringe sowel as die vooruitsig van ’n moontlike voortsetting van dié musiekgroep met sy kultusstatus.