Maree se musiek laat jou ‘voete vuiste maak’

Alet Janse van Rensburg

Toe ek by Kiekies – Lucas se liedjies uitloop, wou ek daar en dan in my kar klim en huis toe ry. Cradock toe. Om by die mense na aan my te wees. Dié mense met wie ek ’n leeftyd se kiekies deel.

Jannie du Toit en Thean Kotzé bied gehoorlede ’n persoonlike blik op Lucas Maree soos hulle hom ervaar het as medemusikant en ’n intieme vriend. ’n Huldeblyk in die ware sin van die woord.

Terselfdertyd is die vertoning, wat musiek van Maree se album Die kiekies-konsertinsluit, ook ’n viering van Du Toit en Kotzé se talente in sang en kitaarspel. Kotzé vertel dat Maree foto’s beskou het as ’n “lewensinventaris”.  a

Die liedjies word afgewissel met stories oor Maree. ’n Herinnering aan Maree wat baie van sy familie en vriende koester, is die kenmerkende manier waarop hy ’n telefoongesprek begin het: “Hallo jy!” Du Toit sing ook ’n liedjie wat Maree geskryf het, maar nooit self opgeneem het nie, omdat hy dit vir Du Toit as ’n geskenk gegee het.

Van Maree se bekendste liedjies word ook gesing. Met “Victoriabaai” en “Miljoen” begin die gehoor spontaan saamsing.

Kotzé vertel hoe Maree met woorde gespeel het. As musiek Maree regtig beïndruk het, het hy gesê “sy voete maak vuiste”. Dié vertoning laat die gehoor se “voete vuiste maak”.