AARDKLOP DIREKSIE: NUWE VOORSITTER AANGEKONDIG

Prof. Fika Janse van Rensburg, voormalige NWU-Adjunkhoof en Adjunk-visekanselier: Potchefstroomkampus Bedryf, is Donderdag 15 November 2018, in Johannesburg verkies as die nuwe voorsitter van Aardklop Nasionale Kunstefees se direksie. Prof. Janse van Rensburg neem oor by mnr. Japie Gouws, voormalige uitvoerende hoof van die ATKV, wat die afgelope twee jaar die direksie gelei het.

Prof. Janse van Rensburg sê dat onder die bekwame leiding van Japie Gouws en met die voorvat van ’n gedugte bestuurspan Aardklop homself die afgelope drie jaar bewys het as ‘n Kunstefees wat nie net onmisbaar nie, maar ook volhoubaar is! Hy sê verder, ‘ons werk daarvoor dat dit steeds méér só sal wees dat alle Suid-Afrikaners dié fees aantreklik vind. Potchefstroom, Aardklop en die NWU-Puk het sinoniem met mekaar geword. Ons sal dit graag verder wil uitbou sodat ons hele land voordeel kan trek uit dié nasionale kunsjuweel.’

Japie Gouws sê dat dit was vir hom ʼn groot voorreg om vir die eerste drie jaar van die “nuwe Aardklop” op die direksie te dien. Gouws was vir die laaste twee jaar voorsitter van die fees se direksie. Hy het die direksie en bestuur bedank vir die toewyding en harde werk. Hy het hulle ook geluk gewens met die baie suksesvolle aanbieding van die 2018 Aardklop.

Gouws het die nuwe voorsitter, prof Fika Janse van Rensburg, gelukgewens met sy aanwysing as voorsitter: ‘Aardklop is een van die bekendste en belangrikste handelsmerke in die Afrikaanse kultuurwêreld en is onontbeerlik vir die skep van geleenthede vir die kunstepubliek, kunstenaars, kunsmakers, die ekonomie van Potchefstroom, en vir die lewenskragtigheid van Afrikaanse kunste in die algemeen. Fika is die ideale persoon om Aardklop vorentoe te neem as een van die toonaangewende Afrikaanse kunstefeeste in Suid-Afrika.’

Alexa Strachan (Feesbestuurder) voeg by: ‘Japie se vertrek is vir ons almal ‘n terugslag – sonder sy sterk en kalm leierskap sou die sogenaamde “nuwe Aardklop” nie kon wees nie. Ons respekteer egter sy besluit, en weet dat hy Aardklop altyd trots as deel van sy reuse nalatenskap sal sien. Terselfdertyd sien ons baie uit daarna om saam met prof Fika as voorsitter te werk. Die jaar wat hy reeds op die direksie gedien het, het gewys dat hy die fees, asook die breër kultuurlandskap werklik ter wille is. Hy is vertroud met die werklikhede en uitdagings waarmee ons te doen kry, en sy positiewe denkwyse is reeds alombekend. Boonop is hy ‘n geliefde en gerespekteerde persoonlikheid in die groter Potchefstroom-gemeenskap.’

Aardklop sal 24-29 September 2019 in Potchefstroom plaasvind.