’n Oomblik van stilte én vermaak in die gejaagdheid
Elna is ’n ambisieuse eiendomsagent. Ansie is ’n Afrikaans-onderwyseres. Terwyl die twee middeljarige sussies hul pa se kosbaarste besittings in sy woonstel op die 14de verdieping inpak en stuk-stuk na ’n versorgingseenheid trek, gaan staan die hysbak en sommer vinnig handel die gesprek oor kwessies wat lank onaangeraak gelaat is.
In Die voordele van eierwit vermaak Margit Meyer-Rödenbeck (as Elna) en Marion Holm (as Ansie) die gehoor met ’n geredekawel wat vir meeste sussies al te bekend is. Die hysbak waarin hulle vasgekeer is, word ook op ’n kreatiewe manier uitgebeeld as ’n oorvol en deurmekaar vierkant in die middel van die verhoog waarin enigiets van ’n Kersfeesboom tot ’n rusbank net-net inpas.
Nadat Elna ’n onverwagse vonds maak, besluit die twee om saam die boks wat as “privaat” gemerk is oop te maak. Daarin vind hulle aandenkings soos hul melktande en haarlokke, maar ook hulle oorlede ma se as. Elke item roep herinneringe op en dit word gou duidelik dat Elna en Ansie hul kinderdae, die huwelik, ouderdom en aftrede baie anders ervaar.
Die voordele van eierwit se uitbeelding van uiteenlopende persoonlikhede wat in die gejaagde omstandighede in ’n beknopte hysbak tot stilstand gedwing word.
Dit laat ’n mens lag en openbaar terselfdertyd die vrese wat ons elkeen ervaar.
– Alet Janse van Rensburg
Met: Margit Meyer-Rödenbeck en Marion Holm Teks: Retief Scholtz Stelontwerp: Jaco Conradie Verhoogbestuur: Mariska Meyer Regie: Tara Notcutt Vervaardiger: Handyminds en Arena Produksiehuis Ondersteun deur: NATi, Clemengold, Tygervallei, LW Hiemstra Trust