Resensie: Tien duisend ton

Die mens dra swaar aan sy keuses

Tien duisend ton. Die gewig van ’n mens oor sy leeftyd. Tien duisend ton se CO₂.
Cintaine Schutte en Albert Pretorius speel die rolle van ’n jong, ongetroude paartjie wat daaroor wroeg om ’n kind te hê. Hulle wroeg oor die gewig van die kind op hul lewe, hul lywe en hul land. Kan die aarde die gewig van nog ’n mens dra?

Hy wil ’n baba hê, maar sy is bang. Sy worstel. Om ’n kind te hê, is g’n grap nie. Babas is oulik en lieftallig, maar hulle bly nie klein nie. Kinders word grootmense en mense weeg swaar.

Die vrou se bekommernis sit in die frons op haar voorkop. Schutte gebruik haar lyf soos ’n kwas om die beeld van ’n gebroke vrou te verf. Haar hande fladder soos sy hardop dink en op en af oor die stuk sintetiese gras, wat as die speelruimte dien, marsjeer.

Die paartjie is stukkend. Hulle is belas met verlies en verbrokkeling en verraad, en hul verhouding ly daaronder.
Die man probeer hard om hom te ontferm oor ’n vrou wat net aanhou om hom weg te stoot. Hy weet nie meer wat om te doen nie. Hy maak homself groot wanneer sy vra, en klein wanneer sy genoeg gehad het. Pretorius vang die beeld perfek vas, soos hy sy sweterige handpalms aan sy broekspype afvee en ongemaklik sy gewig van een voet na die ander versit, soos hy koes vir die vrou se woorde.

’n Mens kan sien aan die gesigsuitdrukkings van die gehoor, wat reg rondom die “grasperk” sit, dat hulle ook die gewig van die rou emosie van die karakters en die skokkende waarhede oor die toestand van ons planeet dra.
So swaar as wat die mens se voetspoor op die aarde is, so gewigtig is die stofgegewe van Tien duisend ton wat die kyker saam met hom gaan dra.

– Miles Kean

Met: Cintaine Schutte en Albert Pretorius Teks: Duncan MacMillan Verhoogbestuur: Carel Nel Stelontwerp en Regie: Nico Scheepers Vervaardiger: Carel Nel in opdrag van die US Woordfees Ondersteun deur: kunsStig

ATKV-Aardklop Atrium A POK, 24, 26 Sept 10:00, 25, 27 Sept 14:00, 28 Sept 13:00, R150, 80 min, Geen o/16 (T,S), Tragikomedie, Afr

KLIK HIER VIR KAARTJIES

Deel Met Ander:

Share on facebook
Share on google
Share on twitter
Share on linkedin
Share on pinterest
Share on print
Share on email
Scroll to Top