Resensie: CH2 & The Fire Gypsies en Die Montoya Spaanse Dansers

Vonke, Flamme en Vreugde

As jy iemand is wat hou van pret en goeie musiek is hierdie die produksie vir jou.

CH2 & The Fire Gypsies en die Montoya- Spaanse Dansers is ’n avontuur op die verhoog. Die twee kitaarspelers, Corneille Hutten en Dirkie van Staden, neem tydlose treffers soos Tussen treine, Vyfster Hotel California en Volare en maak dit hul eie met ’n klassieke Spaanse klank. Hulle deel ook ’n paar oorspronlike stukke met die gehoor van hul nuwe album, Starstruck. Soos hul vingers oor die snare dans, kan ’n mens sien dat ’n paar van die gehoorlede sommer lus lyk om saam te dans.

Saam met die flink vingers van CH2 kom die flink voete van die Montoya- Spaanse dansers, onder leiding van Maria Lorca Montoya. Die dansers laat die verhoog dreun, die vroue getooi in kleurvolle rokke en met tjalies en handwaaiers wat soos ’n pou se stertvere soms skielik ontplooi. Die dansgeselskap skakel gesellig in en die vriendskaplike verhouding tussen Montoya en Hutten dra by tot die vermaak en joligheid van die produksie.

As dit nog nie genoeg is om jou na dié produksie te lok nie, is daar nog die kersie op die koek, die vuursigeunerin. Morgan was aan die brand met haar vlammende hoelahoepel en fakkels. Die gehoorlede wat in die eerste paar rye sit kan die hitte voel soos sy elegant met vlam en vuur tussen deur die dansers vleg.

Met ’n paar improvisasie-stukke, ’n bietjie betrokkenheid van die gehoor, en vele vreugde, jolyt en geselligheid, is dié vurige produksie iets vir die hele familie om te geniet.

– Miles Kean

Deel Met Ander:

Share on facebook
Share on google
Share on twitter
Share on linkedin
Share on pinterest
Share on print
Share on email
Scroll to Top