Resensie: Die dinge van ’n kind

Soos ’n eerste soen wat warm én koud is

Cintaine Schutte parkour in ’n emosionele landskap wat strek van wrewel na onskuld, van vrees na vergifnis. Haar dinamiese vertolking van Marita van der Vyver se karakters in die verhoogverwerking van Die dinge van ’n kind toon dié aktrise se waarlike vermoëns as verkleurmannetjie.

Die hoofkarakter, Mart Vermaak, wys en vertel van die gebeure wat haar lei om as ’n dapper muis terug te keer na ’n sinkende skip. ’n Mens hoor van haar rebelse, dog invloedryke kamermaat op skool, verpligte diensplig, haar eerste soen, swangerskap, selfdood – die dinge van ’n kind wat nog nie afgesweer is nie.

Die humor tree elke keer op die perfekte, nodigste tydstip in, baie keer bloot deur die unieke uitdrukkings en menings van die karakters, ander kere deurdat die klassieke opstelling en trefreël mekaar jukstaponeer. Dit is ryk, toeganklik en pragtig.

Die kostelike en roerende (onderskeidelik) gesprekke tussen die karakters word aangevul met die klankbaan, wat somtyds aktief aangewend word en na vore kom, en somtyds meer in halflig gaan skuil in die agtergrond.

’n Mens kry hier te doen met uitdagings waarvan ’n mens eintlik dalk doelbewus onbewus sou wou bly — veral as ’n mens in ag neem dat dít die tipe lewe is wat kinders, soos enige ander normale mense, somtyds moet leef. Maar hier word ’n poging aangewend om sin te maak van ’n lewe, om vrede te maak, sodat Mart haar storie kan vertel.

Die dinge van ’n kind is soos ’n eerste soen, én soos ’n laaste soen – ’n soen wat gelyktydig warm en koud is.

– Ruan Fourie

Met: Cintaine Schutte Teks: Francois Toerien na die roman deur Marita van der Vyver Verhoogbestuur: Lize van Rooyen Klankbaan: Schalk Joubert Regie: Nicole Holm Vervaardiger: Arena Produksiehuis

Ondersteun deur: NATi en LW Hiemstra Trust

kykNET Gimmies, 26 Sept 13:00, 25, 27 Sept 20:00, 28 Sept 09:30, R145, 90 min, Drama, Geen o/16 (T, S), Afr

KLIK HIER VIR KAARTJIES

Deel Met Ander:

Share on facebook
Share on google
Share on twitter
Share on linkedin
Share on pinterest
Share on print
Share on email
Scroll to Top