Resensie: Die roadtrip

’n ‘Roadtrip’ wat jou tevrede huiswaarts laat keer

Die roadtrip bied ligte vermaak wat die gehoor laat lag en hulle koppe laat skud vir die lawwigheid van twee ou universiteitsmaats, Jaco en Belarus, wat onderskeidelik deur Brendon Daniels en Waldemar Schultz gespeel word.

Twintig jaar nadat hulle klaar studeer het, is hulle steeds vriende en moet hulle op Belarus se versoek die afstand vanaf Kaapstad tot Johannesburg aflê sodat Belarus daar ’n voertuig kan koop. Belarus het duidelik nog nie veel verander vandat hulle studente was nie en word deur Jaco kinderagtig genoem. Op 40 sê Belarus nog “dude” en “bra” en leef sorgeloos soos ’n student, maar Jaco het al ’n vrou en twee kinders.

Jaco se “kar” op die stel nooi die gehoorlede om hulle verbeelding te gebruik. Geen deel van die reiservaring word uitgelaat nie: die karakters reis veilig met sitplekgordels aan, sukkel met die kattebak en ruil selfs ’n pap wiel met die moersleutel en domkrag om. Tussen Jaco se bestuursvernuf en Belarus se toertjies in die passasiersitplek het die twee ’n hele paar noue ontkomings.

Die roadtrip spot gemoedelik met die nuutste gesondheidsneigings en geldmaak-plannetjies. Enige ongemaklike stiltes tussen gesprekke word gevul met die musiek wat Jaco in die kar speel. Voordat die twee universiteitsmaats tot stilstand kom, word ’n paar geheime gedeel, ook een wat Belarus se leefwyse drasties gaan verander.

Die twee vorder nie te ver op die pad nie, maar tog kan hulle en die gehoorlede tevrede huiswaarts keer.

– Alet Janse van Rensburg

Deel Met Ander:

Share on facebook
Share on google
Share on twitter
Share on linkedin
Share on pinterest
Share on print
Share on email
Scroll to Top