Resensie: Kamphoer – Die verhaal van Susan Nell

’n Verhaal wat die kyker verskrompel

In hierdie verhaal is die weerklinkende “en toe… en toe… en toe…” sonder antwoord ’n soeke na woorde om ’n storie te vertel waarvoor daar nie woorde is nie. Die kul- en kronkelpaaie van die verhaal eggo steeds; die vuur van haar storie sal jou verskrompel.

Sandra Prinsloo, onder Lara Foot se regie, bring Susan Nell se verhaal na uitverkoopte teaters — ’n verhaal wat, te midde van onse troebel tyd van gendergebaseerde geweld, driedubbel meer van die aangrypingskrag het as vantevore.
In die verhoogverwerking van Francois Smit se Kamphoer en Nico Moolman se The Boer Whore word daar (in vergelyking met dié tekste) meer gefokus op die Suid-Afrikaanse milieu as die hoofkarakter se tyd in Europa. Die tweede helfte van die roman word aansienlik ingeperk aangebied, wat die storie-ervaring goed belyn vir die teater.

Die toneel behels ’n vertelling, ’n voëlvlug waarin die ontberings van ’n slagoffer lyf kry. Die verskillende ruimtes van Susan se verlede word geaktiveer: die konsentrasiekamp, ’n woonstel, ’n hospitaalkamer, ’n grot, ’n brandende plaashuis. Die stelontwerp word voorstellings van dit wat sy saamdra.

Susan se lewe blyk ’n nimmereindigende oorlog te wees, wat spreek tot die wyse waarop trauma in ’n slagoffer se grein gaan lê. Die wanvermoë om intiem te vertrou en die gewigtige bagasie wat ’n mens ten alle tye moet saamdra kom só ook aan die bod.

Vertellenderwys neem Susan dus haar storie in haar eie hande. Sy wys dat sy haarself keer op keer moes herskep, ná “dit wat [sy] in Suid-Afrika geword het”. Die aanbieding maak dit duidelik hoe belangrik dit is om te praat oor trauma, in plaas daarvan om dit op te sluit en te laat fermenteer tot ’n nog donkerder, meer onaardse gedierte. Daarmee saam moet jy vir jou ’n eie suksesvolle hergeboorte — die agterlaat van dit wat so aardskuddend seer is — gun.

Prinsloo bied die verhaal van Susan Nell meesleurend aan, van nederlaag tot uitbarsting; elke poging om tot heling te kom. Soos Susan dit stel: ’n Mens moet doodgaan om weer te begin lewe.
En hier is haar verskroeiende verhaal. “Kyk. Dis wat dit is.”

– Ruan Fourie
Met: Sandra Prinsloo Verwerk deur: Cecilia du Toit in samewerking met Sandra Prinsloo en Lara Foot Stel- en beligtingsontwerp: Patrick Curtis Klankontwerp en klankbaan: Simon Kohler Kostuumontwerp: Mariechen Vosloo en Birrie le Roux Verhoogbestuurder: Jeanne Steenkamp Regie: Lara Foot Vervaardiger: Theatrerocket Onderteun deur: KunsStig

kykNET Gimmies, 26 Sept 09:30, 27 Sept 16:00, 28 Sept 20:00, R145, 75 min, Drama, Geen o/14 (T,S,G,V) Afr

KLIK HIER VIR KAARTJIES

Deel Met Ander:

Share on facebook
Share on google
Share on twitter
Share on linkedin
Share on pinterest
Share on print
Share on email
Scroll to Top