Resensie: Queenie-hulle

Die hoop binne ’n hulpelose situasie

Queenie-hulle gee kykers ’n blik op vyf bergies se ervaring wanneer hulle op die vooraand van 2019 se nasionale verkiesing ’n kennisgewing kry dat hulle die Good Hope Centre, waar hulle tot dusver gebly het, moet ontruim.

Alles is egter nie verlore nie, want die verkiesing hou die moontlikheid van positiewe veranderinge in en boonop gaan hulle ’n brief aan die goewerment rig om vir blyplek te vra. Die mees geletterde lid van die groep, Joey, moet dié brief skryf, maar probleme duik op wanneer die proses groot ontnugtering meebring.

Die toneelstuk verken identiteit sonder veel agting vir politiek korrektheid. Die ontnugterde Joey vertel die ander dat hulle sonder eiendom en ’n beroep nie veel werd is nie. Queenie (gespeel deur Jill Levenberg) meen dat hulle elkeen ’n storie en ’n naam het – iets wat al minder oortuig omdat Jerry nie weet wat sy regte naam is nie en Queenie haar bynaam gekry het toe sy toentertyd as Spring Queen gekroon is.

Daar is hartroerende tonele soos Queenie se terugflits na haar kroning as Spring Queen en wanneer Annie, die kind van die Here, met Jerry empatiseer wanneer hy homself kniediep in die moeilikheid bevind. Annie glo vas dat almal wat stem huise sal kry. Queenie is oortuig daarvan dat sy weer haar ou werk by Factory Fashions sal terugkry en Jerry glo dat Joey altyd vir hom sal sorg.

Queenie-hulle is ’n emosionele ervaring, want saam met hulle beleef jy die hulpelose situasie binne die Good Hope Centre, maar ook die sprankie van hoop wat nie geblus word nie.

  • Alet Janse van Rensburg

Met: : Louw Venter, Jill Levenberg, Brendon Daniels, Lynelle Kenned, Jaques de Silva Teks: Christo Davids en Lloyd Davids Regie: Christo Davids Vervaardiger: Aardklop Ondersteun deur: AK 21

Banketsaal, 25 Sept 20:00, 26 Sept 09:30, 27 Sept 17:00, 28 Sept 17:30, R160, 70 min, Tragikomedie, Geen o/16 (T,I), Afr

KLIK HIER VIR KAARTJIES

Deel Met Ander:

Share on facebook
Share on google
Share on twitter
Share on linkedin
Share on pinterest
Share on print
Share on email
Scroll to Top