Resensie: Raak

Die huwelik se dans van hartstog, spyt en aggressie

Opwindende jong teatermaker Kanya Viljoen se skokstuk tref die teiken. Die gehoor beleef die patologie van ’n huwelik.

André kom tuis van ’n jagtog. Hy lyk soos ’n geslane hond en dra ’n geweer oor sy skouer. Jana staan apaties en koolslaai maak. Sy kreun, gryp na haar maag, bevoel haarself en ondersoek haar vinger. Bloed, vermoed ons. Bloed is oral teenwoordig, soos die bloedkol op die voorkop van die bokkop teen die muur. Bloed en die moontlikheid van geweld pols tussen die getroudes.

Die minimalistiese stel is besonder geslaag: bokkoppe, koffie, tee, whiskey en implemente wieg in ’n hangende raam. Links hang skoolbaadjies soos moontlike persoonlikhede, of eerder gewese persoonlikhede en regs japonne. Wanneer hulle afgepluk word, dans die houthangers.

Dis ’n ingewikkelde dans van hartstog, spyt en aggressie. Eens was daar verliefde, giggelende tieners in skoolbaadjies, maar mettertyd het hulle vervel, hulself verloor en mekaar begin kasty.

Daar word veel tussen die reëls gesê, oor verlies en bloed. Daar is polsende, flikkerende ligte, geweerskote en beskrywings van bokke wat keelaf gesny word en doodbloei. Jana strompel soos ’n gewonde bok en word neergevel. N.P. van Wyk Louw is teenwoordig soos die swart hond. Liefde het tot haat geskif, of tot verwyt. David Viviers en Anoëcha Kruger is tot in die fynste ontsteltenis oortuigend.

Hul bed het ’n slagveld geword en die wond aan die bok se voorkop bloei groter. Dit eindig onbeslis en laat die gehoor verslae. Dis bekend, teen die vel.

Viljoen se teks, stelontwerp en regie is voortreflik.

– Deborah Steinmair

Met: David Viviers en Anoëcha Kruger Verhoogbestuur: Wicus Louw Teks, Stelontwerp, Regie: Kanya Viljoen Vervaardiger: Kanya Viljoen Aardklop speelvak ondersteun deur: KunsStig

Girls High, 26 Sept 16:00, 27 Sept 13:00, R120, 60 min, Riller, Geen o/13 (T,G), Afr

KLIK HIER VIR KAARTJIES

Deel Met Ander:

Share on facebook
Share on google
Share on twitter
Share on linkedin
Share on pinterest
Share on print
Share on email
Scroll to Top