Resensie: ALTEmit A Capella

Die alt-register is ’n toeganklike een, maar die vier alte wat dié produksie opmaak is soveel meer as blote alte. In ALTEmit A Cappella word die sout-van-die-aarde-land wat Suid-Afrika vir die gehoor belig in ’n intieme teater, en dié is nie sommer enige a cappella-vertoning nie.

Wat die vertoning sy eie kleur gee, is die feit dat die meerderheid van die liedjies oorspronklike komposisies is. Daar word wel ’n bekende treffer of twee ook ingesluit: soos enige goeie a cappella-groep dit betaam, word daar behoorlik geboyband, en die gehoor word ook bederf met ander bekende treffers uit ’n ander ruimte as waarin die Jonas Brothers klankgolwe betree het.
Die wyse waarop die vier alte hulself rondom mekaar hou, is wat die heilsaamheid van hierdie vertoning die sterkste kommunikeer. Die geskerts, die vertellings wat liedjies voorafgaan en die wedersydse respek wat duidelik blyk, laat ’n mens voel of ’n mens saam met ’n groep goeie — en baie talentvolle — vriende ’n tydjie deurbring (want elke lid word ook innig voorgestel). “Stemme” hoef nie eers noodwendig in ’n mens se smaak te wees nie; hulle bied met liedjies uit elke lid se pen ’n ontspanne, gemaklike sin van samesyn aan.

Boonop is dit altyd wonderlik om te sien hoe ’n musikant hulself inleef en geniét tydens hul optrede. Die stemme word vindingryk geharmoniseer, selfs verrassend by tye, en die jolige vertoning word afgesluit met ’n tipe seënwens, ’n Afrika-werk.
Die meer-as-blote-alte se registers/talente word met verdrag geöpenbaar soos hulle ’n mens se hart in hul eie hande neem. Die verruklike akkoorde en lirieke openbaar die vuurwarm dog verfynde passie wat dié sangers deel. Om die minste te sê: pragtig, en pret.

Ruan Fourie

Deel Met Ander:

Share on facebook
Share on google
Share on twitter
Share on linkedin
Share on pinterest
Share on print
Share on email
Scroll to Top