Resensie: Donkie

’n Tikkie nostalgie en die harde werklikheid

Dit is onvermydelik om so klein bietjie nostalgies te voel wanneer ’n mens in die gehoor van Donkie sit. Die podium op die verhoog, die portrette van ou skoolhoofde weerskante teen die muur, en die geluid van ’n skoolklok wat die begin van die produksie aandui, sal enige kyker terugneem na hul eie dae op hoërskool.

Frank Opperman speel Barry Swart, noemnaam Donkie, die 58-jarige hoof van Hoërskool Hans Oosthuizen. Swart is besig met sy gewone Maandagoggend-saalopening, maar staar omstredenheid in die gesig ná ’n rassevoorval en sy posisie as skoolhoof word bedreig. Swart maak gebruik van dié saalperiode om oor die onderwerp te praat, sowel as ’n paar kwale van sy eie te deel.

Opperman verbeeld ’n tipiese hoërskoolonderwyser, wat bo-oor sy bril na leerlinge kyk, kort-kort sy broek optrek en sukkel om die leerlinge (die gehoor) onder beheer te hou. Opperman se vermoëns as akteur word nog verder ten toon gestel wanneer hy, totaal geloofwaardig, van sy kollegas na-aap, wat die gehoor laat skree van die lag.

Maar dis nie als net grappies nie. Met die spesifieke voorval tussen ’n onderwyser en ’n leerling, wat in ’n plakkerskamp woon, wat die vertrekpunt is, kyk Donkie ook na die harde werklikheid van rassediskriminasie wat steeds teenwoordig is.
’n Verrassende stuk, waarby almal wat op die skoolbanke was, sal aanklank vind. Woon maar die saalopening by.

Miles Kean

Deel Met Ander:

Share on facebook
Share on google
Share on twitter
Share on linkedin
Share on pinterest
Share on print
Share on email
Scroll to Top