Resensie: Katvoet

Dié Tennessee trap te suutjies in die Bosveld

Dis ’n familiefees, soos in Festen. Die skatryk, kwasterige patriarg (Marius Weyers) word 65, maar is sterwend aan kanker. Die swakkeling-seun en sy dragtige vrou sirkel soos aasvoëls. Albert Pretorius en Martelize Kolver skitter in hierdie tweedeviool-rolle. Weyers se pa-figuur is myns insiens nie oordonderend macho genoeg nie, maar slaag uitnemend daarin om “fok” en “kak” teen verskillende toonhoogtes en met wisselende gevoelswaarde uit te spreek.

Boela, albei ouers se gunsteling (Laudo Liebenberg) en die voorwerp van Maggie (Tinarie van Wyk Loots) se begeerte, suip om dood te suip en slinger op ’n kruk rond. Van die skoonheid en sexiness waarna almal verwys, merk ek min. Hy drink omdat die leuenagtige wêreld en sy eie lafhartige voorgee hom walg. Sy hartsvriend, Casper, is dood.

Ek weet eerlikwaar nie of dit vernuwend genoeg is om bloot Tennessee Williams se klassieke werk na ’n Bosveldplaas te verplaas nie. Die vertaling is voortreflik en die stel esteties bevredigend: naakte bome soos beeldhouwerke.

Die spel is plek-plek briljant, veral Van Wyk Loots as die smeulende, hunkerende Maggie die Kat: Sy is weerloos soos ’n wyfiekat, bronstig. Wanneer Marion Holm as die enigsins belaglike moeder van een oomblik na die volgende haar krag begin bewoon, knetter die lug van statiese elektrisiteit.

’n Vrou langs my mompel: “Wens hulle wil nou klaarkry, hulle irriteer my.” Them’s my sentiments, too. Twee ure is te lank en in ’n mens se kop onthou jy Paul Newman en Liz Taylor in die rolprent.

Teatermakers: Doen asseblief iets nuuts, of as jy na iets klassiek reik, toor dit nuut.

Deborah Steinmair

Deel Met Ander:

Share on facebook
Share on google
Share on twitter
Share on linkedin
Share on pinterest
Share on print
Share on email
Scroll to Top