Resensie: Keelvol

Net die kuur vir dié wat keelvol gewroeg is

Hierdie stuk is verfrissend vir diegene wat moeg gewroeg is. Met soveel hartseer en somber aanbiedings op die spyskaart is ’n musikale komedie net die ding om ’n krul in jou stert terug te sit.

Binnelanders-akteurs Germandt Geldenhuys en Je-ani Swiegelaar het dit self gekonseptualiseer en geskryf en stel hul komiese en musiektalent ten toon. Veral Swiegelaar se komiese tydsberekening is uitstekend.

Dirk verhuis na die platteland en word ’n sangonderwyser. Mariette werk in die dorp se boekwinkel. Sy is ’n natuurkrag, ’n woelwater, ’n ekstrovert, temperamenteel en onstuitbaar. Hul groeiende verhouding het eggo’s van My Fair Lady: ’n gereserveerde man en uitbundige vrou se walsie van uitreik en terugtrek. Hy voel soms oorweldig deur haar. Hy is baie gesteld op stem- en asemhalingsoefeninge en sy wil net “perform”.

Tussendeur oefen hulle vir haar optrede in die Bloemendal’s Got Talent-kompetisie. Dirk begelei haar op die klawerbord. Die musiek is dikwels roerend mooi (ek het nooit gedink ek sou tydens “Jantjie kom huis toe” begin huil nie). Geldenhuys se analise van die lirieke is ’n hoogtepunt en herinner ons weer aan hoe ’n goeie liedjieskrywer Anton Goosen is.
Ja, Geldenhuys is nogal camp, maar sodanige straight mans bestaan daar wel, wat soos blosende bruide keer vir hul paaltjies. Die gehoor skaterlag gereeld.

Myns insiens was dit net daardie bietjie te lank: Die gehoor het spontaan handegeklap ná wat soos ’n klimaks en einde gevoel het, maar daarna het die ligte maar weer aangegaan op nog ’n toneel. Ek sou ’n bietjie sny, maar dit werk!

Deborah Steinmair

Deel Met Ander:

Share on facebook
Share on google
Share on twitter
Share on linkedin
Share on pinterest
Share on print
Share on email
Scroll to Top