Resensie: Non met vakansie

Op vakansie kan jy jouself vind

’n Katolieke non en ’n agnostiese sakeman ontmoet mekaar op ’n Portugese eiland en ontdek toevallig weens ’n belediging wat hy haar toesnou dat hul albei Afrikaans is.

Die storie ontvou en kykers sal nie glo wat suster Magdalene en Michael (vertolk deur Lizz Meiring en Wynand van Vollenstee) in Non met vakansie nog gemeen het nie.

Die humor in dié teks van Meiring werk juis so goed omdat daar op mense se vooropgestelde idees van nonne ingespeel word. ’n Gunsteling-oomblik in die toneelstuk is wanneer dit op die lappe kom dat suster Magdalene die waarheid moes verdraai om die vakansie moontlik te maak, en dit boonop met die klooster se geld.

Die gemak waarmee Michael voor haar vloekwoorde gebruik en bier drink laat die gehoor lekker kry. Van Vollenstee se goeie komiese tydsberekening sorg vir vele lagwekkende oomblikke.

Maar saam met die lag word daar nagedink oor opoffering, vryheid en die keuses wat ’n mens maak. Michael sê jy is wat jy van jouself maak. Suster Magdalene glo dat sy geroepe is om ’n non te wees, dat haar eie wil ondergeskik is, maar onlangs betwyfel sy hierdie roeping en wonder of ’n ander lewe nog vir haar moontlik is.

Op ’n kol sê Michael dat die wêreld se grootste probleem is “dat mense te veel kak uitdink”. Non met vakansie is definitief nie deel van hierdie probleem nie en beslis ’n kyk werd.

Alet Janse van Rensburg

 

 

Deel Met Ander:

Share on facebook
Share on google
Share on twitter
Share on linkedin
Share on pinterest
Share on print
Share on email
Scroll to Top