Resensie: Amanda Strydom – Miss Mandy

Amanda Strydom – Miss Mandy voer die ouer gehoor terug na ’n vorige era in die vermaakbedryf en leer die van ons wat nie die vorige era kon meemaak nie baie oor Suid-Afrika en ons erfenis uit die teater. Daar is ’n versameling stories uit die tyd toe akteurs deur die veld getrek het om vertonings by te woon, tot die dae toe die SAUK akteurs op die hande gedra het en die huidige stand van sake.

Amanda vervleg musiek uit haar teaterloopbaan met persoonlike stories uit haar lewenservaringe. Beide die musiek en die vertellings vervul gehoorlede met bewondering vir hierdie merkwaardige kunstenaar en vrou. Tydens die vertoning noem sy ook hoe dankbaar sy is vir Coenraad Rall se klavierbegeleiding en voeg grappenderwys by dat sy sestien voel wanneer sy kan sing met Rall se energieke begeleiding.

“Grieta du Plooy” is ’n liedjie wat gereeld ’n verskyning gemaak het in Amanda se loopbaan, maar sy sê iets van haar eie vasberadenheid om in die bedryf te werk word ook daarin vasgevang. Die donker kant van die lewe op die verhoog en haar stryd met bipolêre depressie word nie uitgelaat nie en Amanda deel ook haar ervaring daarmee.

Op die kruin van haar sukses het Amanda politiese bewus geword en was sy verstoot uit die Afrikaanse binnekring na sy die teken van swart solidariteit, vuis omhoog, gebruik het. Daarna was sy dikwels Amandla genoem. Haar vriendskap met oorlede oud-president Nelson Mandela het ook gesorg vir vele interessante stories.

Amanda het ook genoem dat daar aan die begin van haar loopbaan nie veel in Afrikaans was om oor trots te wees nie. Dit is definitief nie meer die geval nie en Amanda se bydra het baie daarmee te make. Mens verlaat die vertoning opnuut trots op Suid-Afrika en Afrikaans.

– Alet Janse van Rensburg