Resensie: Charl du Plessis – Solo

Oudergewoonte stap Charl du Plessis die konservatorium binne en trek dadelik los met twee aangrypende werke. Sy eerste solo-projek en -vertoning demonstreer opnuut sy vryehand vermoëns; die projek is ’n introspektiewe een.

Die werke word ingelei met ’n bietjie agtergrond, maar ook kan ’n mens sien hoe Du Plessis hom laat meesleur deur die musiek. Dit is immers baie van die musiek wat hy tuis graag vir homself speel. Hy hoef nie meer juis te veel gewilde werke aan te bied nie, want Du Plessis self vermaak die verhoog ongeag van of hulle die werk ken.

’n Besondere stuk, die eie komposisie getitel “Ostinato” sentreer rondom die D net bó middel C; die noot word na bewering meer as ’n duisend keer gespeel in hierdie stuk wat so te sê ’n Liszt-kaliber gravitas aan hom het.

Verdere hoogtepunte is die gebruik van ’n voorbereide klavier (dit behels dat daar ’n klankdempende lap sowel as skroewe en ander metaal dingetjies op die klavier se snare gesit word om ’n ander klankeffek te verkry) en die afsluitwerk, Astor Piazzolla se bekende “Libertango”.

Solo is ’n baie persoonlike uiting van Charl du Plessis af. By tye lyk dit byna of hy homself heeltemal agterlaat, asof hy van buite af, verwyderd, kyk na sy eie loopbaan, sy eie storie. Sy vertelling is so aangrypend jy sit mettertyd met jou eie hande om jou keel.

– Ruan Fourie