Koningin Lear

Resensie: Koningin Lear

In die titaniese produksie Koningin Lear span ’n geselskap van akteurs saam om ’n verhaal van status en verraad aan te bied.

Dié herverbeelding van Shakespeare se King Lear se teks kom uit die pen van Tom Lanoye en is verstommend vertaal deur Antjie Krog; die teks is poëties, dig en ryk, maar nie ontoeganklik nie (vir dié wat skrik vir Shakespeare).

“’n Hart wat hol is wat eggo’s nie herhaal nie is nie noodwendig leeg nie.” Antoinette Kellermann se meesterlike vertolking van ’n sakevrou wat haar houvas op die werklikheid verloor en haar sakeryk onder haar seuns verdeel, word nog meer aangesterk deur haar mede-spelers se vernuf.

Haar uitbarstings en episodes van verwarring en opvlieëndheid smyt die gehoor soos ’n kaarthuis omver. Haar seuns (en hul eggenote) se hebsug kom keer op keer aan die bod en lei eindelik uiteraard na tragedie. Die wêreld wat sy vir haarself opgebou het gaan heeltemal ten gronde terwyl dié rondom haar óf terugsit en kyk hoe dit gebeur, óf die verdoemenis net meer aanhuts — hulle staan paraat om haar ryk oor te neem, “soos ’n maaier wat sy ma verslind”.

Haar kinders word een vir een van haar vervreem soos sy hulle in haar waan verloor en weer terugkry. ’n Mens besef wel hoe gereeld sy genoop word om haar dapperder voor te doen as wat sy is — sterker as syself. Bowenal kry ’n mens hier te doen met die komplikasies wat familie en besigheid inhou, want elke karakter is eintlik tot sy eie mate stapelgek, die “adel van die drek”.

– Ruan Fourie