Resensie: Laurika Rauch

Uit die donker neem Laurika agter die mikrofoon vorm aan. Sy dra swart en sy het ’n bandolier soos ’n klein generaal: Dis ’n hangverband vir haar arm ná ’n motorongeluk in Potchefstroom waarin sy haar skouer beseer het.

Dawerende applous. Die gehoor is vir die duur van die vertoning in die holte van haar hand. Sy lyk soos ’n fynbesnede Eskimo, sy is kleiner, maar haar teenwoordigheid het die statuur van iemand soos Mercedes Sosa. Sy lig haar hand en gee vlerke aan haar geliefde sandsuikerstem. Sy begin met “Ek wil by jou wees vanaand”. Die gehoor beaam dit.

Tussen haar en haar jare lange pianis, Clinton Waring, is daar ’n vonk, ’n sprank vreugde, begrip en gedeelde musiek. Sy staan regop en kenmerkend bewegingloos en sit soms op ’n kroegstoeltjie. Sy sing treffers uit ’n loopbaan van veertig jaar. Die gehoor drink dit in soos sonlig.

Bekende geliefdes word afgestof, soos “Kinders van die wind, “Kyk hoe glinster die maan”, “Blouberg se strand”, “Stuur groete aan Mannetjies Roux, “Die mense op die bus”. Sy vertel soms ’n staaltjie, met droë humor, soos oor Taubie Kushlick wat haar hoor sing het en vir iemand gevra het: “Who is this Boer girl?” En haar daarna natuurlik in die Brel-vertonings gebruik het. Sy sing ’n stuitige Nederlandse liedjie oor skoonheid wat vergaan en lelikheid wat blywend is.

Die lig is sag en warm, haar stem streel en die klawers en Clinton se stem weef ’n wondertapyt van nostalgie. Ons is in die geselskap van ’n legende.

– Deborah Steinmair