Resensie: Portret

’n Skone klankbaan van Magdalene Minnaar se loopbaan

Die nimlike Magdalene Minnaar gee in Portret rekenskap van die werke wat haar deur haar loopbaan beïnvloed en gevorm het. Die liedjies word afgewissel met vertellings van hoe sy haar by tye moes hervorm, soms met Tori Amos, Radiohead en Nirvana, later Ava Cassidy en Joni Mitchell.

Die produksie is dus ’n selfportret. Sy dra egter ook werke aan die mense in haar verlede én toekoms op. Onder meer bederf sy ’n mens ook met ’n verwerking van haar vier gunstelingwiegeliedjies, dié wat sy in die aande vir haar kinders sing, wat ’n intieme oomblik in die teater skep.

Maryke Johnson se begeleiding op klavier is meesterlik dinamies. Portret sluit ’n variasie van werke in, die klankbaan van Minnaar se loopbaan, wat strek vanaf opera en jazz tot by Nirvana; die wisseling hiertussen is naatloos. Wanneer sy met die gehoor praat, vertel sy stories uit haar verlede, of lees voor uit haar digbundel (wat dieselfde titel dra en by die fees debuteer).

Die voordrag van Rachmaninoff se “Vocalise” is niks minder as absoluut roerend nie. Eg beskeie vra Minnaar ten einde: “Wil julle regtig nog een hoor?” En sy sluit dan af met die immer gewilde (dog onontkenbaar pragtige) “O mio babbino caro” uit Puccini se Gianni Schicchi en ’n mens se hart skiet vol van heimwee. Die hele aanbieding wys waarop dit uitloop om eens in jou lewe te min geld en te veel drome te hê.

– Ruan Fourie