Resensie: Sê groete vir ma

Uit stories waarmee Suid-Afrikaners hul kan vereenselwig leer die kyker vir Reghardt Roberts van Aswegen (Hannes van Wyk) ken. Daar word besin oor sekere sleuteloomblikke in Reghardt se lewe wat hom lei om ’n besluit te neem in ’n lewe-of-dood-situasie.

Hy is ’n boerseun wat nie die troetelhoender, Knoop, wou nekomdraai toe slagtyd aanbreek nie. Hy wou nie rugby speel nie en hy en sy ma was soos twee helftes van een siel. Met ’n boetie en pa wat nie sy belangstellings deel of graag hul emosies bespreek nie, was sy ma sy veilige vesting.

Verskillende ruimtes en tydgleuwe uit Reghardt se lewe word doeltreffend uitgebeeld sonder enige onnodige elemente. Die enigste dekor op die meestal gestroopte verhoog is twee stoele en ’n draaiverhoog, maar met behulp van die beligting word ’n hoftoneel, die verlede en Reghardt se draaiende gedagtewêreld suksesvol uitgebeeld.

Die draaiverhoog roep die beeld van ’n ballerina in ’n juwelekissie op. Die herhaling van seker frases wanneer Reghardt op die draaiverhoog roteer, bind die versameling vertellinge tot ’n samehangende geheel wat opbou tot ’n kardinale oomblik. Wie laat die ballerina draai en wie bepaal wanneer dit moet stop? Dis die vraag waarmee Reghardt se sielsgenoot en ma sukkel in Sê groete vir ma.

Die toneelstuk is onopgesmuk, maar maak ’n impak en het talle gehoorlede, ongeag hoe taai hulle lyk, laat vroetel vir ’n tissue wanneer hul eie herinneringe aan ’n moederfiguur opgeroep word.

– Alet Janse van Rensburg