Koningin Lear

Resensie: Koningin Lear

As jy jou ooit ’n wenspan kon indink, dan bestaan dit uit Tom Lanoye, Antjie Krog, Marthinus Basson en Antoinette Kellermann, André Roothman en nog meer.

Maar alles begin by Shakespeare. Lanoye het sy dawerende tragedie King Lear herverbeel in ’n moderne opset, in die wêreld van groot monopoliekapitaal, met Lear ’n vrou – en wat ’n vrou. Kellermann in die raadsaal in sjiek romp en bolla is piss cool, die ene gravitas en gesag. Haar seuns is jonk en voortvarend.

Sy wil haar sakeryk bemaak aan die een wat haar die liefste het. Julle ken die storie: Die ouer broers tower mooi woorde en gebare soos spookasem op, die jongste is eerlik. Hy word verban. Edwin van der Walt is haar Benjamin.

Wilhelm van der Walt skitter as die konkelende middelste seun. Neels van Jaarsveld is die stomp potlood in die space case, ’n tweegatjakkals. Anna-Mart van der Merwe dra die lelikste kostuums van haar lewe: ’n glinsterende minirok en later ’n geblomde rok met ’n swanger maag soos ’n strandbal. Rolanda Marais is soos altyd beeldskoon en deurlug.

Die stel is suiwer Basson: stellasies soos kamerverdelers wat blink soos hysbakdeure. Bo-op is monitors, TV-skerms waarop vernietigende siklone en tifone woed, dakke word afgeruk en bome ontwortel, terwyl koningin Lear toenemend die kluts kwytraak en in Krog se sonderlinge, pront Afrikaans voortwoed. Kellerman is self ’n natuurkrag. Sy speel met haar lyf, haar seningrige, lieflike lyf.

Daar is ’n toneel waarin Van der Walt as ’n verslaafde bergie die horries kry – manjifiek. Daar is taferele wat vir ewig op my retina ingebrand is: Kellermann en Van der Walt ten slotte vervleg in ’n Piëta.
Woorde soos seldsaam, majestueus en kragtoer is nie eers toereikend nie. Hierdie produksie span die kroon op ’n uitsonderlike fees.

– Deborah Steinmair