Resensie: Loki Rothman en Albert Frost – Akoestiese kitaar

’n Mens hoef nie ’n kitaarmusiekliefhebber te wees om op dié kitaarduo verlief te raak nie. Loki Rothman en Albert Frost gebruik twee akoestiese kitare om ’n besonderse musiekproduksie aan te bied.

Ná die afloop van die eerste liedjie, voorstellings en verwelkomings, neem Rothman die geleentheid om vir die gehoor te wys hoe die kitaar as die “Swiss Army knife” van musiekinstrumente beskou kan word. Hy wys die gehoor hoe die kitaar gebruik kan word vir perkussie deur op die lyf van die instrument te slaan en met sy vingernaels daarop te tik, as ’n banjo of baskitaar, of selfs as ’n kontrabas.

Rothman en Frost se repertoire bestaan uit bekende jazz-, blues-, rock- en country-musiek, sowel as ’n paar oorspronklike werke, en eiesoortige samevoegings van bestaande musiek. Met hul diverse program klink geen twee stukke dieselfde nie, wat die gehoor deurgaans vasgevang hou.

Boonop is dit nie net die kitare wat praat nie, maar ook hul lywe soos hulle saamdans en rondbeweeg oor die hele verhoog, die manier waarop hulle verlore raak in die musiek. Hulle deel stories van hoe hul liefde vir kitaar ontstaan het, en hoe die duo begin het, sonder om enigsins die fokus van die musiek af weg te neem.

Die twee mans is nie net begaafde kitaarspelers nie, maar ook begaafde sangers. Jy sien hoe die gehoor se koppe saamdans met die liedjies en aan die einde van elke liedjie gaan almal behoorlik tekere.
Net 60 minute saam met die twee uitsonderlike kunstenaars is nie naastenby genoeg nie.

– Miles Kean