Resensie: Mathys Roets en Dana Snyman – Lag van die huil

Mathys Roets en Dana Snyman deel ’n verhoog en vermaak ’n wonderlike gehoor; “heil die leser, huil die luisteraar”. Bekende liedjies uit Roets se loopbaan word afgewissel met storievertelling deur Snyman, en so word die bittersoet aard van ’n lewe aan die gehoor gekommunikeer.

In een aanbieding (uit Snyman se nuwe boek) dryf hy heilsaam die spot met die Afrikaanse mens se bygeloof en sêgoed. Die herkenbaarheid (en by tye belaglikheid) van dit wat hy sê, laat jou skaterlag. Vooraf vertel Roets byvoorbeeld ook van toe hy nog in die aand in restaurante gesing het vir sakgeld.

Die wedersydse bepeinsinge/vertellings van dit wat onthou word of dit wat al van lank gelede af opgekrop word ¬– oor die mense en dinge wat ons miskyk en die mooierige, nodigerige leuens wat ons vir onsself vertel ¬– laat ’n mens wel mettertyd besef dat dit nooit eintlik so goed (of sleg!) gaan soos wat almal sê dit gaan nie.

’n Mens mis partykeer dit wat ooglopend is. Lag van die huil wissel gedurig van warm na koud, en die aanbieding sluit ook verskeie musikale versinsels in, soos dié van Koos du Plessis. “Sprokie vir ’n stadskind” se sprake van die neonboog se punt spreek tot die verlede se verwysingsraamwerk van die Suid-Afrikaanse ooms en tannies, maar ontlok juis ook opnuut waardering in die Elgro-hotel se saal, ’n ou en bekende gebou in Potchefstroom. Die musiek word gemaklik en gepoleer aangebied.

Snyman vermeld dat die wonderlike ding van stories is dat niemand s’n belangriker is as iemand anders s’n nie. Myns insiens is dít wat hierdie produksie se titel voorstel: die vreugde en venyn van ons lewens. Ons gebruik stories om sin te maak van en vir onsself.

– Ruan Fourie