Resensie: ’n Non, ’n prins en ’n spook stap in ’n kroeg!

Conroy Cupido lei die NWU Konservatoriumkoor en gaskunstenaar Magdalene Minnaar in ’n Broadway-geïnspireerde program wat ’n mens met hoendervel laat van die opwinding. ’n Orkes van 22 lede deel die verhoog met die sangers en die program open opwindend met liedjies uit The Phantom of the Opera.

Die gehoor word verder bederf met bekende (gewilde) musiek, onder meer “Defying Gravity” uit Wicked en “Do You Hear the People Sing?” uit Les Misérables. Die program volg nie noodwendig enige spesifieke storielyn nie, maar die gehoor word met behulp van ’n projektor georiënteer ten opsigte van die liedjie wat gesing word se musiekblyspel van oorsprong.

Die program is lewendig en in die Snowflake kon ’n mens die gehoor se vreugde aanvoel. Die musikante deel die (aansienlik smal) verhoog met gemak en respek. Die choreografie en ander interpretatiewe vertolkings maak dit meer aktief en opwindend, al is die aard van Broadway-musiek (veral die gewildstes) in elk geval reeds groots.

Buiten die program self, is die aanbieding ook ’n lekker ervaring in ’n estetiese sin, want die kostuumontwerp, gepaard met die venue bied ’n breë palet van aardse kleure.

’n Non, ’n prins en ’n spook stap in ’n kroeg! is ’n uur van ordentlike, onopgesmukte genot.

– Ruan Fourie