Aardklop 2019: ’n Fees van Rekords!

Aardklop het vanjaar verwagtinge oortref en rekords laat spat!

Ten spyte van uitdagings soos vreemde weerpatrone en ’n sukkelende ekonomie het die fees op vele vlakke rekordgetalle aangeteken. Dié fees wat van die land se mees gevierde produksies soos Koningin Lear, Kamphoer, Sima Mashazi se My Miriam Makeba Story en Tien Duisend Ton aangebied het, het meer as 77 produksies oor ’n tydperk van vyf dae aangebied; meer as 15 hiervan was debuutproduksies.

Aardklop het ’n rekordgetal besoekers op die eerste dag van die fees in Potchefstroom verwelkom.

Meer as 10 000 besoekers het op 24 September die feesterrein besoek (30% meer as in 2018).

In 2018 is daar 30% meer feesgangers as in 2017 aangeteken. Hierdie is ’n wonderlike groeipatroon wat dui op die positiewe ervaring wat die fees bied en die feit dat feesgangers steeds, ten spyte van ’n sukkelende ekonomie, die fees in hul hordes bywoon. Oor die algemeen het 12% meer mense die feesterrein in 2019 (in vergelyking met 2018) besoek.

In terme van produksiekaartjies is ’n fenominale groei van 11% aangeteken. “In ag genome die feit dat een van die produksies drie ure lank was en talle ander ’n tydsduur van tot twee ure gehad het, is hierdie groeisyfer eintlik effe onwerklik as mens in ag neem dat die gehore se kapasiteit om vertonings by te woon hierdeur beïnvloed word).

Ons is verstom oor die bywoning en die toename in produksiekaartjies se verkope. Hierdie syfers getuig van ’n klein span se harde werk, ’n veelsydige feesprogram en die feit dat die fees jaarliks nuwe projekte aanpak ten einde ‘n verrykende ervaring vir elke Suid-Afrikaner te bied. Ons is opreg dankbaar vir die sukses van vanjaar se fees,” – Alexa Strachan, Aardklop Uitvoerende Hoof.

Die sukses van die fees moet natuurlik aan die omvattende lys rolspelers toegeskryf word. “Sonder borge, donateurs, kunstenaars, werknemers, tegnici, plaaslike inwoners en feesgangers wat die fees toegewyd ondersteun kan ons nie voortbestaan nie; ons is werklik dankbaar vir elkeen se rol in die reuse sukses van Aardklop 2019.

Dit is veral belangrik om die rol van borge en donateurs uit te lig en te beklemtoon, die steun van hierdie instansies en instellings verseker op die langduur die volhoubaarheid van die fees asook ’n broodnodige platform vir Afrikaanse kunste in die noorde van die land.

Aardklop sal in 2020 van 22-27 September in Potchefstroom plaasvind. Meer inligting sal binnekort op die fees se webblad beskikbaar wees.