Aardklop vier vyf jaar se sukses

Die afgelope vier jaar is Aardklop, met rede, as die Lasarus-fees gedoop. Dié fees, is in 2016 deur ’n nuwe bestuurspan oorgeneem… en wat ‘n herlewing was dit nie!

Slegs twee jaar na die “nuwe” Aardklop die lig gesien het, is dit in 2017 as SA se Gewildste Fees bekroon!

Op Donderdagaand, 13 Februarie, is ’n openbare vergadering in Potchefstroom gehou.

Hier het die feesbestuuder, Alexa Strachan, die prestasie van die fees beklemtoon: “Aardklop se grootste doel en fokus is om die kunste en kunsbesinning in die land te vier en ’n bydrae daartoe te maak. Ons het Sondagaand, die mees gesogte toekenning tydens die kykNET-Fiëstas ontvang: Queenie-hulle, vervaardig deur Aardklop, is bekroon as die Beste Aanbieding van 2019. Iewers doen ons duidelik iets reg! Die standaard is nou gestel, in 2020 poog ons om dit weer te wen!”

Tydens Donderdagaand se ope-vergadering is uitgelig dat daar, soos elke ander jaar, klein aanpassings gemaak moet word om die fees se volhoubaarheid en sukses te verseker.

Virtuele kantoor

Aardklop funksioneer sedert die begin van 2020 vanaf ‘n virtuele kantoor. Hierdeur bly die fees toonaangewend en beweeg saam met nasionale en internasionale tendense, maar die grootste motivering hier agter is die reuse besparings wat gemaak word.

Die personeel kan telefonies of via e-pos gekontak word. Alle inligting is op Aardklop se webblad beskikbaar. ’n Feeskantoor sal kort voor die fees vir die publiek oopmaak.

Aardklop se feesterrein

Aardklop ondersoek die moontlikheid om die fees in 2020 op die NWU-gronde aan te bied. Bekostigbaarheid, toeganklikheid, veiligheid én genoegsame parkering sal hierdeur verseker word.

Bekostigbare ingangsfooie

Vir die derde jaar in ‘n ry sal toegangsfooi tot die feesterrein slegs R30 per persoon wees!

Kinders onder 12 kom stééds gratis in en weekskaartjies sal teen R80 beskikbaar wees.

Geen ekstra fooie sal vir terreinverhoë gehef word nie! 

Die genoemde aanpassings word om twee redes gemaak: om uitgawes effektief te bestuur en sodoende die fees se volhoubaar te verseker, maar hoofsaaklik om vir feesgangers die geleentheid te bied om steeds teen sakpaspryse een Suid-Afrika se beste feeste, hier in Potchefstroom, te geniet!

Aardklop sal van 22-27 September in Potchefstroom aangebied word.

Deel Met Ander:

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on pinterest
Pinterest
Share on linkedin
LinkedIn
Meer Nuus
Scroll to Top