Aardklop 2020 gaan nie voort soos beplan

Vanjaar het tot dusver talle uitdagings ingehou vir almal. Aardklop het, soos elke ander organisasie, groot en moeilike besluite gehad om te neem. Onsekerhede oor aspekte soos of en wanneer massa-byeenkomste en grootskaalse interprovinsiale reis weer toegelaat sal word, is van die aspekte wat die feesbestuur in gedagte moes hou. 

Dit, sowel as die feite wat wel tot ons beskikking is:

  • Die Sept-Okt skoolvakansie is verkort
  • Borge se bemarkingsbegrotings is gesny
  • Feesgangers se besteebare inkomste wat as gevolg van die pandemie verminder
  • Kunstenaars, tegnici, stalletjiehouers, tydelike werkers en talle ander rolspelers verdien om so gou moontlik te weet of Aardklop soos normaal sal voortgaan, sodat hulle kan beplan. 

Dit is dus met swaar harte dat ons die volgende besluit geneem het: Aardklop 2020 sal nie soos beplan einde September in Potchefstroom plaasvind nie. 

Ons gaan intussen voort om losstaande projekte / produksies te ondersoek:

  • Hierdie projekte sal onafhanklik van Aardklop se voorlopige program befonds, onderhandel en aangebied word.
  • Die projekte is geensins gekoppel aan Aardklop se tradisionele tydsgleuf en plek nie.
  • Nuwe vennote en venues sal indien haalbaar gevind word.
  • Projekte kan tradisionele, virtuele en nuwe platforms insluit.
  • Hierdie projekte het ten doel om Aardklop as platform aktief te laat funksioneer, en om inkomste vir kunstenaars, tegnici en diensverskaffers te genereer.

Volgens Alexa Strachan is besluitneming tans nie maklik nie, maar moet ons aanpasbaar, vernuwend en ontvanklik bly:  “Kunstenaars, stalletjiehouers en ander vennote het Aardklop as ‘n lig aan die einde van die baie donker tonnel waarin 2020 ontaard het gesien. Die beste manier waarop ons die bedryf en al ons rolspelers kan dien, is egter om hierdie pandemie te oorleef, sodat daar sodra ons na die nuwe normaal terugkeer, steeds ‘n Aardklop sal wees.”

Deel Met Ander:

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on pinterest
Pinterest
Share on linkedin
LinkedIn
Meer Nuus
Scroll to Top