Aardklop bied Pronk Podium aan ten spyte van pandemie!

Aardklop Pronk Podium semi-finale en finaal vind plaas op 28 en 29 Augustus 2020. Die optredes word verfilm by die Atterbury teater, en sal aanlyn uitgesaai word.

Pronk Podium bied sedert 2017 ‘n platform vir studente- en tienerteater.  In 2020 het ons bloot besluit om aan te pas en voort te pronk! Waar ander voor probleme stuit, sien ons jong teatermakers geleenthede – hulle is aanpasbaar, innoverend en onstuitbaar! 

Pronk Podium het meer as 80 eenmanvertonings aanlyn ontvang. Akteurs, skrywers en regisseurs vanoor die land het hul kreatiwiteit ingespan en verhoë gevind, en hul stories vertel. Nou kry die 11 semi-finaliste die geleentheid om hulle produksies te verfyn en aan te bied. Ses tienertoneelstukke en vyf studentestudentestukke speel op 28 Augustus in die semi-finale, waarna die top ses stukke op 29 Augustus sal optree.

“Hierdie projek skop Aardklop 2020 af, sê Alexa Strachan. En hoe kan ons beter begin as by die toekoms? Jong mense se werk, positiwiteit en insig laat mens nederig!” 

Opmerkings vanaf die beoordeelaars en borge sluit in:

Kaz Mcfadden, beoordeelaar: “Daar is min geleenthede vir kunstenaars en gehore om soveel kreatiwiteit, soveel vernuf en soveel werksetiek te sien soos tienertoneel. Aardklop Pronk Podium is sekerlik die mees opwindende van hierdie platforms.”

Mila Guy, beoordelaar: “Pronk Podium bied ‘n ongelooflike platform vir tieners en studente om te act. As dramastudent het ek altyd gevoel mens het meer geleenthede nodig om fisies op die verhoog te wees, jouself te leer ken en selfversekerd te raak in jou vermoëns. Ek haal my hoed af vir hierdie jong teatermakers – om ’n eenmanstuk aan te pak verg moed en hulle doen ’n uitstekende werk daarvan

Johny Klein, beoordelaar: “Die feit dat Pronk Podium vanjaar aangaan, ten spyte van alles rondom ons, is ’n teken dat teater nooit sal gaan lê nie. Hierdie projek wys hoe teater en film kan trou om in die middel van ’n pandemie te verseker dat die platform sal bly voortleef. Ek moet ook beklemtoon hoeveel respek ek vir die jong talent het… ’n eenmanstuk is vreesaanjaend en hulle speel briljant vir beide die gehoor en die kamera. Lank lewe teater!”

Jaco van der Walt, Senior Bestuurder NWU Kunste: “NWU Kunste ondersteun graag platforms waar ons studente die geleentheid kry om hul talente verder te ontwikkel en in hierdie moeilike tyd is Aardklop Pronk Podium presies die regte platform vir jong talent. Tans is daar doodse stilte op elke verhoog in die land maar ons almal het stories om te vertel. Koop ‘n kaartjie en kom kyk! Die jong klomp gaan jou verras!”  

Zahn Hulme, Uitvoerende Trustee Atterbury Trust: “Atterbury Trust skep al vir meer as twintig jaar hoop deur ons studiebeurse aan behoeftige studente, die ondersteuning van Afrikaanse kuns en kultuur en gemeenskapsprojekte. In hierdie uitdagende tye wil ons steeds verseker dat jong kunstenaars se drome groter as hulle vrese moet wees. Daarom ondersteun ons graag vanjaar weer die Pronk Podium.”

Aardklop Pronk Podium Semi-finaliste sluit in:

Tienerproduksies

  • Vry: Hoërskool Noordheuwel
  • Wentelkind: Hoërskool Parel Vallei 
  • Kou-Vid: Hoërskool Zwartkop
  • ’n Traumatiese retrospeksie: Hoërskool Noordheuwel 
  • Wie’t gevra?: Hoërskool Randburg
  • Kollig: Hoërskool Hugenote 

Studenteproduksies

  • Salig Onbewus 
  • Skilderlig 
  • Movies vir Ava 
  • Christmas Shopping 
  • Sharrap en eet jou kos! 

Kaartjies beskikbaar by Ticketpro
Prys: R60
Datum: 28 Augustus 2020
Tyd: 18:00
Tydsduur: 170 min

Met dié kaartjie kan al elf semi-finaliste se vertonings gekyk word. 

Op 29 Augustus sal die finaal aanlyn aangebied word. Meer inligting sal binnekort beskikbaar wees.

Hierdie projek word met trots ondersteun en moontlik gemaak deur Atterbury Trust, NWU Kunste en NATi.

Deel Met Ander:

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on pinterest
Pinterest
Share on linkedin
LinkedIn
Meer Nuus
Scroll to Top