Aardklop Pronk Podium semi-finaal en finaal is hier!

“Na 18 maande sonder enige konserte by die skool skreeu ek nou: We are back, baby!” So het ‘n duidelik aangedane Mariki de Villiers Knop, kultuurkoördineerder van Hoërskool Noordheuwel, een van die gasheerskole van Aardklop Pronk Podium verlede week van die verhoog af gesê.

Aardklop Pronk Podium se semi-finale en finaal vind 24 – 27 Augustus 2021 plaas by die AfriForum teater in Pretoria.

Waar ons in 2020 met ons baanbrekerprojek Pronk Digitaal begin en volstaan het, kon ons in 2021 die projek nogmaals uitbrei. “Die wêreld staan stil, maar nie hiérdie jong teatermakers nie”, sê David Brink, projekbestuurder.

By die onderskeie streeksfeeste wat die afgelope paar weke plaasgevind het by Helpmekaar Kollege, Hoërskool Noordheuwel, Eldo Toneelfees en NWU Kampustoneel, het 402 tieners, 80 laerskoolleerders en 30 studente deelgeneem aan 91 produksies!

Die streeksbeoordeelaars David Brink, Kaz Mcfadden, Mila Guy, Johny Klein en Alexa Strachan het Gauteng en omliggende streke plat gery, ten einde skole te besoek wat weens die inperkings nie fisies by die onderskeie streeksfeeste kon deelneem nie.

“Julle as leerders en jong teatermakers wys vir ons as professionele akteurs, vervaardigers en skrywers dat daar hoop is, en julle gee ons ook sommer ‘n ligte skop onder ons sterte, dankie daarvoor!” het Alexa Strachan by Helpmekaar Kollege gesê.

Kaz Mcfadden het bygevoeg: “Na 18 maande sonder teater stap ons in drie weke in iets wat amper ongelooflik is – in die ware sin van die woord. Ek kon dit letterlik nie glo nie. Nie ‘n enkele deelnemer hierdie jaar het gesmag na sertifikate of punte nie. Elke enkele persoon wóú bloot speel.”

Jaco van der Walt, Senior Bestuurder NWU Kunste noem: “NWU Kunste ondersteun graag platforms waar ons studente die geleentheid kry om hul talente verder te ontwikkel en in hierdie moeilike tyd is Aardklop Pronk Podium presies die regte platform vir jong talent. Tans is daar doodse stilte op elke verhoog in die land maar ons almal het stories om te vertel. Koop ‘n kaartjie en kom kyk! Die jong klomp gaan jou verras!”

Aardklop Pronk Podium Semi-finaliste:
Pronk Podium Tienerproduksies
Hoërskool Waterkloof met die produksie Molshoop
Hoërskool Zwartkop met die produksie Beset
Helpmekaar Kollege met die produksie Detensie
Hoërskool Eldoraigne met die produksie Dubbel(s)innig
Helpmekaar Kollege met die produksie Vlieërs
Hoërskool Noordheuwel met die produksie Vier vingers

Pronk Pret
Bryanston Parallel Medium met die produksie – Ontsnap
Laerskool Wierdapark met die produksie – Hoofpyn
Bryanston Parallel Medium met die produksie – Boer soek ‘n vrou
Laerskool Swartkop met die produksie Pippie Langkous

Pronk Digitaal
Diandra Slabbert met die produksie HUMERUS
Hoërskool Noordheuwel met die produksie HEG
Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria met die produksie – Clarice-Marie
Hoërskool Zwartkop met die produksie Miss Delivery
Hoërskool Die Wilgers met die produksie – SPUIT kom altyd te laat
HTS Witbank met die produksie Avontuurdier

  • Kaartjies beskikbaar op AfriForum Teater se webtuiste www.afriforumteater.co.za
  • Beperkte sitplekke in teater beskikbaar, alternatiewelik is aanlyn kaartjies beskikbaar
  • Prys: R70
  • Datum: 24 – 27 Augustus 2021
  • Tyd: 16:30 -21:00

Hierdie projek word met trots ondersteun en moontlik gemaak deur NATi, NWU Kunste en Aardklop.

Deel Met Ander:

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on pinterest
Pinterest
Share on linkedin
LinkedIn
Meer Nuus

Humerus – die film

Rienie haat self bejammerende mense, maar sy vind haarself op die enkele ergste gruwelikste dag

Scroll to Top