Queenie-hulle – film

Die groep bergies wat jare lank hulle tuiste vind op die trappe van die Good Hope Centre in Kaapstad het nie ‘n normale dag by die kantoor nie: Jerry het net R2-tip gekry vir twéé ure se kar oppas, iemand het die gemeenskaplike dop gedrink, en Queenie daag op met ‘n eviction notice vanaf die Stadsraad, en dit boonop op verkiesingsdag! Hoe nou gemaak? Hulle sal begin met brief aan die government, of nee, MEMORANDUM. Whitey het at least Engels gehad tot in standaard 8, so hy weet, raait? To whom it may concern?

Die akteur, skrywer en regisseur Christo Davids se produksie, Queenie-hulle, is monumentale teater met eggo’s van Beckett en Brecht. Dis ‘n driepennie-opera, ‘n bedelaarsballet, ‘n vlooisirkus, ‘n ballade van bergies, ‘n gewag op behuising en hoop. Die spel is hipnoties aangrypend.

Die regie is fenomenaal: Dis fisieke teater, fyn gechoreografeer. Veral Daniels se lyftaal is welsprekender as woorde. Venter as vernederde wit man tot by sy rooi onderbroek gestroop, bly jou by. Die dinamika tussen die los groepering van geteisterdes is plofbaar en veranderlik: Aggressie vlam op, vuiste klap, messe blink, galgtoue wieg en krukke klap. Dan klou hulle weer aan mekaar, wieg en troos soos gedoemdes – Deborah Steinmair, NETWERK 24.

Die produksie ontvang die kykNET Fiëstas-toekenning vir beste aanbieding. Brendon Daniels ontvang die Aardklop-toekenning sowel as die kykNET Fiëtas-toekenning as Beste Akteur.

Betrokkenes:

  • Vervaardiger: Alexa Strachan vir Aardklop
  • Teks: Christo Davids en Lloyd Davids
  • Regie: Christo Davids
  • Met: Jill Levenberg, Brendon Daniels, Louw Venter, Jaques de Silva, Lynelle Kenned
  • Produksiebestuurder: Mariska Meyer
  • Verhoogbestuurder: Jak Brits
  • Stel en beligtingsontwerp: Jaco (Kosie) Smit
  • Kostuumontwerp: Mariska Meyer
  • Klankbaan: Coenraad Rall

Kaartjies: https://bit.ly/3jTZUdG

Deel Met Ander:

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on pinterest
Pinterest
Share on linkedin
LinkedIn
Meer Nuus

Humerus – die film

Rienie haat self bejammerende mense, maar sy vind haarself op die enkele ergste gruwelikste dag

Scroll to Top