Aardklop 2021 visuele kunste by die Voortekkermonument

  • 29 September – 3 Okt, 08:00 -17:00
  • Ondersteun deur NWU Kunste

Daar is twee uitstallings tydens hierdie jaar se Aardklop: ’n solo-uitstalling deur Johan Stegmann: ’n Goeie Dag vir ’n Slag, wat in die Senotaafsaal in die monument gaan wees – waar dit in gesprek sal tree met die friesmakette wat permanent daar op uitstalling is. Die tweede is ’n groot groepsuitstalling met ongeveer 30 kunstenaars onder die titel Liewe Land! 

Daar is ook drie rondleidings na die uitstallings wat deur Dineke van der Walt (kurator) en Johan Stegmann (kunstenaar) gelei sal word. 30 Sept 10:00, 2 en 3 Okt 10:00. KLIK HIER vir meer inligting.

’n Gesprek Wit Man op ’n Slag word  Vrydag 1 Okt, 13:00 gevoer by die Voortekkermonument: Liedjietuin. 
’n Diverse paneel  bespreek ‘ligte’ onderwerpe soos kuns, die toekoms, wit skuld en Afrikaner-terrorisme. As wegspringplek verwys hul na Aardklop se visuele kuns aanbieding in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument: ’n Goeie Dag vir ’n Slag (Skhokho Sangemphela). Met Bouwer Bosch, Stefaans Coetzee, Schalk van Heerden en Johan Stegmann, en ‘n werklik buitengewone deelnemer as verrassing.

Johan Stegmann: ’n Goeie Dag vir ’n Slag (Skhokho Sangemphela)

ʼn Goeie Dag vir ʼn Slag kan daarna verwys daarna dat dit uiteindelik ʼn goeie dag is, of dat dit ʼn goeie dag is vir ‘n slagting.

Die Slag van Bloedrivier  / iMpi yaseNcome was uiters belangrik in die verloop van die geskiedenis van Suid-Afrika. Dit is die toonbeeld van die digotomiese aard van geskiedenis. Dieselfde stel feite (as jy die feite aanvaar as die waarheid) kan verskillende betekenisse hê, afhangende van aan watter kant van die Ncome-rivier jy staan. Die impak van hierdie geskiedkundige gebeurtenis het Stegmann gemotiveer om met opset die stories van Bloedrivier en die ervarings van hedendaagse Suid-Afrikaners in een beeld voor te stel. 

Verklaring deur die kunstenaar 

Ek bestudeer graag tweeledigheid – in die geskiedenis, in moraliteit en in die skeiding tussen intellektuele en intuïtiewe denke. Ek ondersoek die Eurosentriese aard van kontemporêre Suid-Afrikaanse (en wêreldwye) kultuur deur op  ʼn speelse manier die geskiedenis oor te vertel. Ek skep beelde wat op die oog af ooreenstem met die kenmerke en sogenaamde gesag van klassieke Westerse kuns, maar wat dan daardie einste kuns en die aannames wat daarmee gepaard gaan, ondermyn.

Wanneer ʼn kunstenaar in die Westerse tradisie werk en van historiese beelde gebruik maak, is daar gewoonlik ʼn geneigdheid om die sogenaamde gesag van daardie beelde te beklemtoon eerder as om dit te bevraagteken. Maar, deur oor te gee aan my bewondering vir Eurosentriese beelde, en deur hulle algemeen aanvaarde narratiewe te oordryf tot in die absurde, kan dié Eurosentriese idees van hulle outoriteit gestroop word. Die feilbaarheid van ʼn spesifieke siening van die wêreld kan dus uitgelig word in die feilbaarheid van ʼn beeld. Ek poog nie om ʼn narratief vir my gehoor voor te skryf nie, maar eerder om hulle uit te daag om hul begrip van “geskiedenis” te ondersoek.

Ek strewe daarna om beelde te skep waar onversoenbare idees gemeng kan word om nuwe gedagtes, idees en gevoelens te laat ontstaan – en hopelik dan die binêre te oortref. Ek hoop dat die ondersoek van tweeledigheid in ons geskiedenis kan bydra tot belangrike gesprekke en sosiale samehorigheid.

Bykomemde inligting:

‘n Goeie Dag vir ‘n Slag: A Bloodriver/Ncome monument was ‘n solo-uitstallling by die Everard Read galery in 2018. Dit het ‘n paneelbespreking ingesluit, en ek was gelukkig met hoe ons hierdie plofbare onderwerp met insig en sensitiwiteit  kon hanteer. In hierdie  2021 uitbreiding van die tema en werk, sal die huidige klimaat van onluste en spanning ook bykomend aangespreek word. Dit sluit ons veerkragtigheid en vermoë om te versoen onder baie spanningsvolle omstandighede in. Ek werk aan  ’n spesiale oudovisuele stuk met medwerkers vanaf die plattelandse Mkhondo (Piet Retief) en die kunstenaar Layziehound Coka, oorspronklik van KZN met die werkstitel: Die Swart Gevaar is Nou my Tjommie.  

Meer oor die kunstenaar:

Johan Stegmann is ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar wat bekend is vir sy uiters gedetailleerde houtskoolsketse en etswerk in ’n klassieke (Eurosentriese) styl, maar met ’n rewolusionêre kinkel.  Sy werk bied vermengings van verskillende periodes uit die geskiedenis wat botsende identiteite, perspektiewe, ideologieë en menings bevat. As ’n blanke Afrikaanse man, omarm Stegmann sy eie identiteit met ’n performatiewe doel, wat duidelik in sy installasies, publieke betrokkenheid en video-werke gesien kan word. Stegmann se werke spreek in ʼn problematiese stem, en koester dit tot op die punt waar dit in iets anders verander; iets dinamies met tweeledigheid.  

Johan Stegmann, gebore in 1988, is ’n visuele kunstenaar en ’n gekwalifiseerde meganiese ingenieur van Johannesburg. Sy blootstelling aan kuns het in 2011 begin, toe hy die studio’s van kunstenaars soos William Kentridge en Louis Olivier gewerk het. Hiervandaan het hy sy artistieke loopbaan ontwikkel met groepuitstallings regoor Suid-Afrika, waartydens hy ’n finalis in verskeie kompetisies was. Stegmann is ’n alumnus van mentorskapprogramme soos RMB Talent Unlocked, en verskyn tans in die Meta Foundation mentorskapprogram. Hy het opleidingsperiodes met Modern Art Projects in Richmond en Intaglio Studio in Kaapstad voltooi. Stegmann se solo-uitstallings was reeds te sien in verskeie museums (Ncome-monument), kommersiële galerye (Everard Read en Circa Galery) en op kunstefeeste (Innibos). 

Groepsuitstalling:  Liewe Land!

Ondersteun deur NWU Kunste, en Aquafer Foundation

Vroeë uitbeeldings van  Suid-Afrikaanse landskappe word dikwels gekenmerk deur romantiese weergawes van suiwer en majestueuse rotsformasies en blou lug. Tipies is dit gewoonlik leë natuurlandskappe waar fauna en flora en geologie sentraal staan. Maar selfs wanneer die natuur gebruik word vir sy ekspressiewe potensiaal, is die weergawes daarvan nooit neutraal nie. 

Vir hierdie uistalling is kunstenaars genooi om te reageer en te herinterpreteer. Ons het ‘n versameling ou afdrukke in die argiewe van die Voortrekkermonument ontdek, en kunstenaars aangemoedig om nuwe werk daarmee te skep. Die afdrukke kon op enige manier gebruik word: as materiaal, inspirasie, of as vertrekpunt vir kritiese kommentaar. Kunstenaars kon vrylik aanpas, vernietig, verfraai, of nuwe vorm gee aan werk. 

Die uitstalling sluit ook die bestaande onaangeraakte afdrukke vanuit die vroeë 20ste eeu in, langs die nuutskeppings van 2021.

Liewe Land! ondersoek  die verskeie maniere  waarna ons na ouer landskapstonele sal kyk vanuit ons huidige perspektiewe. Land en grond het sterk en uiteenlopende politieke interpretasies. Ons siening daarvan en daaroor word gevorm deur herinneringe, mites en verskillende naratiewe. 

Die vraag bly: Wat beteken land, grond en landskap vandag vir ons?

Kunstenaars betrokke:

  • Barbara Wildenboer
  • Olwethu de Vos
  • Michele Rolstone
  • Percy Maimela
  • Layzihound Coka
  • Jan Maanda Tshikhuthula
  • Annemi Conradie
  • Kate’Lyn Chetty
  • Jaco van Schalkwyk
  • Siphamandla Ex
  • Hannelie Coetzee
  • Richards Specs Ndimande
  • Zolile Phetshane
  • Richard Strydom
  • Gordon Froud
  • Diane Victor
  • Mbongeni Fakudze
  • Leah Hawker
  • Sandile Radebe
  • Pat Matlau
  • Phumlani Ntuli
  • Henrietta Scholtz
  • Kutlo Mabua
  • Steven Bosch
  • Lebogang Mogul Mabusela
  • Alexa Pienaar
  • Ana Pather
  • Joy
  • Landi Raubenheimer
  • Johan Stegmann
  • Mbongeni Mhlongo

Kunswerke  / afdrukke waarmee kunstenaars werk:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top