Momentum Beleggings Aardklop 2022 Toekennings en datums vir 2023

Aardklop se Hartsvriende toekennings, ondersteun deur NATi, het op Vrydag 25 November by Momentum se hoofkantoor in Centurion, plaasgevind.

Alexa Strachan, uitvoerende hoof van die fees, het Vrydagaand by dié samekoms, aangebied in samewerking met Aardklop se naamborg Momentum Beleggings, gesê dat dié toekenningsaand ‘n viering is van die topgehalte werk en produksies by vanjaar se Aardklop “Die 2022 opwipfeeste in Potchefstroom, Johannesburg en Pretoria was ambisieus. Van die kunstenaars, tegnici en feesgangers moes behoorlik kophou van wanneer hulle waar moes wees”.

Die drie feeste se programaanbiedinge het verskil, met slegs die gewilde Laerskool Noord wat by al drie aangebied is.
Volgens Strachan was die programme kleiner, met die fokus op gehalte aanbiedinge.

Die volgende toekennings is gemaak:
– Beste prestasie in klassieke musiek: Charl du Plessis vir Aardklop Aubade, wat sedert November 2020 by die Afrikaanse Hoër Seunskool aangebied word.
– Beste spel in ’n hoofrol: Anna-Mart van der Merwe, vir Terminaal 3
– Beste prestasie in ’n musiekgedrewe produksie: Nataniël – Die Smitstraat Suite
– Beste regie: Marthinus Basson vir Terminaal 3
– Beste produksie: Mixtape van die liefde
– Grensverskuiwende werk: Nataniël – Die Smitstraat Suite

Strachan het ook Momentum Beleggings Aardklop se beplanning vir 2023 bekendgemaak. Sy het genoem dat die twee projekte, wat regdeur die jaar aangebied word, Aardklop Aubade en Pronk Podium soos vantevore in Pretoria gesetel sal bly.
Linden, Johannesburg is as ’n uitstekende nuwe bestemming beskryf.
Ons is aangenaam verras deur die gemeenskap van Linden se positiewe en warm ontvangs, en beplan om die projek stewig hier te vestig.” Meer besonderhede oor dié datums word later bekendgemaak. Die amptelike terugkeer van die fees se hoofaktiwiteit in Potchefstroom is bevestig. “Dit is met groot opwinding dat ons kan aankondig dat Aardklop weereens ‘n langtermyn-ooreenkoms met Die NWU Potchefstroomkampus kon sluit, en dat vakansiedatums uiteindelik weer mooi saamspeel”.

Aardklop keer in 2023 terug na Potchefstroom vanaf 3 tot 8 Oktober.

Dankie aan Momentum Beleggings, NATi en Hermanuspietersfontein Wines wat die toekenningsaand moontlik gemaak het.

Scroll to Top