Dagsê ’klopper
Die enigste ding beter as goeie vermaak, is as jy daardie goeie vermaak teen ’n afslagprys kan bekom.
Die span by Aardklop doen elke jaar baie moeite om iets vir almal te bied. Dit sluit ook gesinsvriendelike vermaak in wat vir alle ouderdomme geskik is. ’n Gedeelde teaterervaring is ’n kans vir gesinne om gehaltetyd saam deur te bring, en dit is hoe goeie herinneringe gemaak word.
Maar o wee, dit kan nogal ’n duur storie raak as jy vir almal van die kleinkinders tot hul oumas en oupas moet kaartjies koop. Daarom bied Aardklop vir slegs een dag ’n spesiale gesinspromosie.



Hoe werk dit?
Koop Vrydag 26 Julie (dis môre, so op jou merke, gereed…) kaartjies vir die onderstaande produksies, dan kry jy ’n lekker 30%-afslag op die kaartjieprys.*
Al wat jy moet doen, is om tussen 08:00 Vrydagoggend en 08:00 Saterdagoggend 27 Julie jou kaartjies vir dié produksies by Ticketpro te koop:
- Felias en Pokkel: Pokkel gaan ruimte toe: Volprys: R100 | afslagprys: R70
- Liewe Heksie vang vis: Volprys: R125 | afslagprys: R87,50
- Lekker Afrikaans met Pieter Smith: Volprys: R160 | afslagprys: R112
- Hans gee Herklaas horings: Volprys: R190 | afslagprys: R133
- Beste vriende sing Laurika: Volprys: R180 | afslagprys: R126
- Deon Meyer en Coenie de Villiers se Roem: ’n Musiekverhaal: Volprys: R220 | afslagprys: R154
- Joshua na die Reën: Die verte in: Volprys: R200 | afslagprys: R140
- Ruhan du Toit: Volprys: R210 | afslagprys: R147
Vir meer oor dié en al die ander produksies by vanjaar se Momentum Beleggings Aardklop, laai die volledige feesgids af, of kry jou feesboekie by die feeskantoor in Potchefstroom.
*Let wel, hierdie afslag is slegs van toepassing op die volle kaartjieprys. Hartsvriende en pensioentrekkers betaal reeds minder vir kaartjies, en kom daarom nie vir hiervoor in aanmerking nie.
Alexa kry hulle aan die praat
Aardklop se feesdirekteur, Alexa Strachan, is gedurig aan die klets. Ook maar goed sy wend haar talente vir goed aan, anders was die wêreld dalk ’n ander plek.
In aanloop tot vanjaar se fees voer sy ’n reeks onderhoude met kunstenaars – heel professioneel, in ’n ateljee en elke ding. Gaan vind ’n bietjie uit wat lap mense soos Coenie de Villiers, Tobie Cronjé en Joshua na die Reën alles uit.
NS: Dis eksklusiewe inhoud wat jy nêrens anders sal kry nie!
Soos hulle klaargemaak word, word die video’s op die YouTube-kanaal en die voorblad van die webwerf gelaai (jy moet net ’n bietjie af-scroll… nog ’n bietjie… daarsy). Hou ook ons sosiale media dop vir nuus oor die nuutste video’s en klankgrepe.
Ligte, kamera . . .
Aksie! Die volledige dagprogram vir die feesterreinverhoog is nou ook bekendgemaak. Dus kan jy solank jou dae begin beplan rondom jou gunstelinge.



Soos al die ander inligting is die dagprogram op ons webwerf te kry. Oeg, dit gaan lekker wees. Daar’s Pieter Smith, Jesse Clegg, Nádine, Zoë, Jakkie Louw, Bobby van Jaarsveld, Early B, Freckled Elvis, Joshua na die Reën, Refentse, en, en, en – die lys is lank genoeg om jou uitasem te maak. Gaan kyk liewer self.
Terloops . . .
Daar wag nog lekker verrassings in Augustus, maar ons hou van ‘n bietjie afwagting. Volg ons dus op sosiale media – en dan sien ons jou in September!
Terloops-terloops . . .
Die feeskantoor (The Roots, MC Rooderylaan 954) is Saterdag 27 Julie oop van 09:00 tot 12:00. As jy dus in Potch is, gaan maak ’n draai – jy weet jy wil.
#aardklop2024 #hierkomons