Dagsê ’klopper!
Jammer oor die oorgeesdriftige uitroepteken (!), maar dit was ’n lang, koue winter en ons is geweldig opgewonde oor die belofte van lente.
In die noorde is die dae al warmer, die Augustus-winde is hopelik oorgewaai, en nou wag ons op die somerreën.
In die suidelike halfrond is 1 September amptelik lentedag – en dis ook die maand waarin Momentum Beleggings Aardklop plaasvind!
Ons het gekoukus en besluit ons vier dit met ’n spesiale afslagprys op uitgesoekte kaartjies.



Gaan tussen 08:00 Sondag 1 September en 08:00 Dinsdag 3 September na Ticketpro en koop jou kaartjies vir een van dié produksies* teen 30% goedkoper**:
- Pronk Podium-wenproduksies
Volprys R140 | afslagprys R98 - Die lewe in ’n dag van ’n vrugtevlieg
Volprys R160 | afslagprys R112 - ReĂĽnie
Volprys R210 | afslagprys R147 - Stuur groete vir die Moot
Volprys: R160 | R112 - Tollie Parton: Hoe om oor jouself te kom
Volprys: R180 | R126 - Die stoele
Volprys: R210 | R147 - Mel die storieverteller: Dik deurmekaar
Volprys: R160 | afslagprys: R112 - Marianne Thamm: Suid-Afrika – vuisvoos maar nog regop, herlaai!
Volprys: R175 | afslagprys: R122,50 - Kersfees by Aardklop
Volprys: R150 | afslagprys: R105 - Die Van Vuurens vat vlam
Volprys R180 | afslagprys: R126 - André Schwartz – Gesigte
Volprys: R210 | afslagprys: R147
So merke, gereed . . . klik en koop op lentedag! Joegaai!
*Vind meer besonderhede oor dié produksies in die feesprogram. Alle kaartjies kan op ticketpro.co.za gekoop word.
**Hartsvriende en pensioentrekkers betaal reeds minder vir kaartjies, en kom daarom nie vir hierdie afslag in aanmerking nie.
Hoe ry die boere sit-sit so . . .
In SA is openbare vervoer maar aan die onvoorspelbare kant. Nié by Aardklop nie! Ons het met plaaslike diensverskaffers geskakel om te verseker dat jy vinnig en veilig tussen venues kan reis. Só werk dit:
Waar: Die sentrale vertrekpunt is oorkant die feesterrein se hoofingang.
Hoe: Koop pendelkaartjies aanlyn by ticketpro.co.za, of in persoon by die feeskantoor by The Roots of die sentrale vertrekpunt. Druk jou koopbewys/kaartjie uit, en die bestuurder sal ’n gaatjie pons elke keer as jy saamry.
Hoeveel: R20 per rit, en koopbewyse is beskikbaar teen R40, R120, R200 en R400.
Wanneer: Elke dag van 24 tot 28 September.
Let wel: Die bestuurders sal nie kontant aanvaar nie, maar niks keer jou om goeie diens met ’n fooitjie te beloon nie.

Waar woorde woon

’n Afrikaanse kunstefees sonder boeke en skrywers is soos ’n braaibroodjie sonder botter: steeds eetbaar, maar dis net nie heeltemal so lekker nie.
Die goeie nuus is dat die ATKV-Boeke-oase weer vanjaar by Aardklop is. Hier kan leesgieriges en belangstellendes elke dag kom luister na gesprekke met skrywers en kundiges – en dis alles gratis!
Daar is altesame 24 boekgesprekke versprei oor die vyf dae van die fees, en alles van krimi’s tot romanse, van fiksie tot waarheid, van hartseer tot vreugde en meer word bespreek.
Exclusive Books sal ’n opwipwinkel bedryf waar jy jou gunstelinge kan aanskaf.
Kom groet gerus
Die feeskantoor (The Roots, MC Rooderylaan 954) is
Saterdag 31 Augustus oop van 09:00 tot 12:00.
As jy dus in Potch is, kom loer in – ons gesels graag!
Terloops. . .
Wat sê die skilpadjie vir sy mamma as hy wil gaan swem? “Hou my dop.” Hiermee net ’n ligsinnige herinnering om Aardklop se sosiale media-platforms dop te hou (👇👇👇) vir al die jongste, varsste feesnuus. En dan sien ons jou (later) in September!
#aardklop2024 #hierkomons