Momentum Aardklop en die Toyota Woordfees span kragte saam om een van Suid-Afrika se grootste dramaturge te huldig, wat in Maart in die ouderdom van 92 oorlede is. Athol Fugard se ikoniese Boesman en Lena fokus op twee hawelose randfigure: Uitgelewer aan mekaar, die elemente, en aan ’n politieke bestel wat hulle nie ag nie. Dit is ’n boeiende blik op die verwikkeldheid van verhoudings en sosiale ongeregtigheid. Dit is ook ’n viering van die krag en weerbaarheid van die menslike psige, en ons universele neiging tot hoop en behoefte aan meelewing en menslikheid. Boesman and Lena is die eerste keer in 1969 by die Rhodes-Universiteit opgevoer, met Fugard as regisseur sowel as in die rol van Boesman. Hy was ook te sien in die oorspronklike rolprentweergawe van 1973. In dié vertaling van Vinette Ebrahim behartig Christo Davids die regie en Lee-Ann van Rooi en Brendon Daniels is in die rolverdeling. Op die wêreldverhoog word dit beskou as ’n klassieke drama, wat meer as 50 jaar later steeds relevant is weens die universele tema van ontheemding.
Met onder andere: Lee-Ann van Rooi en Brendon Daniels
Teks: Athol Fugard, in Afrikaans vertaal deur Vinette Ebrahim
Regie: Christo Davids
Produksie-ontwerp: Kieran McGregor
Produksiebestuurder: Nwabisa Plaatjie
Verhoogbestuurder: Kaylin Khan
Assistentverhoogbestuurder: David Kuduntwane
Vervaardiger: ’n Ko-produksie van Momentum Aardklop en die Toyota Woordfees
Moontlik gemaak deur: NATi, die Festival Enterprise Catalyst (FEC) en Jobs Fund
Feesgangers kry die geleentheid om die finale kleedrepetisie van Boesman en Lena spotgoedkoop by te woon. Neem asseblief kennis dat die repetisie moontlik onderbreek kan word deur die regisseur of tegniese span. So kry feesgangers ook die geleentheid om ’n kykie agter die skerms te kry en te ervaar hoe die senuwees soms op hol kan raak.
*Ons as vriende en kollegas dra hierdie produksie op aan wyle
Crystal-Donna Roberts. Hierdie idee was joune, liewe vriendin. Ons hoop dat jy sit en smile terwyl jy ons dophou.