Stalletjie-aansoeke
Momentum Beleggings Aardklop 2025
Geagte Stalletjiehouer,
Dankie dat jy belangstel om by Aardklop 2025 uit te stal.
Aardklop vind van 7-12 Oktober 2025 in Potchefstroom plaas. Die Hoof feesterrein is op die Fanie du Toit-Sportgronde van die Noordwes-Universiteit geleë en sal oop wees vanaf 7 tot 11 Oktober 2025.
Om teleurstelling te voorkom, neem asseblief ʼn oomblik om hierdie inligtingstuk sorgvuldig deur te lees. Dit is uiters belangrik dat u vertroud is met al die datums en die bepalings en voorwaardes wat verband hou met die aansoekproses.
Belangrike Datums:
3 Maart 2025 | Aansoeke vir stalletjies open |
16 Mei 2025 | Aansoeke vir stalletjies sluit |
19 Mei 2025 | Bevestiging van ontvangs van aansoeke |
26 Mei 2025 | Uitslag van keuring |
30 Julie 2025 | Betaling van fakture |
29 Augustus 2025 | Finale vereffening van alle uitstaande fakture |
6 Oktober 2025 | Oprigting van stalletjies op die feesterrein |
12 Oktober 2025 | Ontruiming en verwydering van stalletjies van feesterrein |
Algemene Bepalings en Voorwaardes:
- ʼn Aansoek verteenwoordig óf ʼn volledige stalletjie óf ʼn aaneenlopende een-en-ʼn-halwe stalletjie.
- Om die administratiewe koste verbonde aan die verwerking en keuring van ʼn aansoek te dek, word ʼn nie-terugbetaalbare administrasiefooi van R280.00 (BTW ingesluit) eenmalig gehef.
- Indien die aansoek goedgekeur word, sal die huurooreenkoms tussen Aardklop en die applikant geldig wees vir die tydsduur van die fees.
- Aansoeke wat na die sluitingsdatum ingedien word sal slegs verwerk word, indien uitstal spasie beskikbaar is en aan die keuringsvereistes soos hieronder uiteengesit voldoen word.
Aansoek Voorwardes:
Slegs aansoeke wat aan die volgende vereistes voldoen, sal in aanmerking geneem word vir keuring.
Aansoeke waar:
- Die aanlyn aansoekvorm is volledig en korrek voltooi.
- Alle vereiste dokumentasie is by die aansoekvorm aangeheg.
- ‘n Bewys van die betaalde administratiewe fooi, by die aansoekvorm aangeheg is.
Die Aansoekproses:
Nadat jou profiel op die aanlyn portaal geskep is, sal u deurlopend digitale kommunikasie ontvang met betrekking tot die status van die aansoek en enige verdere stappe wat moontlik geneem moet word.
Aansoeke moet voor die voorgeskrewe sluitingsdatum ingedien word.
- Klik op die skakel.
- Skep eenmalig ‘n aanlyn profiel. (2024 Uitstallers kan dieselfde 2024 kode gebruik)
- Kies die verlangde tipe stalletjie(s) en voltooi die vraelys volledig.
- Betaal die verlangde administrasiefooi (EFT of direkte bankdeposito).
NB! Gebruik jou kliëntekode as verwysing. Jy kan jou kliëntekode vind deur in die aanlyn portaal aan te meld, na jou profiel te navigeer en op “Profile” te klik.
Bank Besonderhede:
Rekeninghouer: | Potchefstroom Kunstefees NPC |
Bank: | ABSA |
Tipe rekening: | Tjek |
Universele takkode: | 632005 |
Rekeningnommer: | 408 969 4919 |
Verwysing: | Gebruik die kliëntekode wat geskep is in die aanlyn portaal. |
- Heg die vereiste dokumentasie (hieronder gelys) en die bewys van betaling van die administrasiefooi by die aansoek aan.
- Bevestig dat jy die bepalings en voorwaardes aanvaar.
Vereiste Dokumentasie
Heg die onderstaande dokumentasie by die aansoek aan: Kunsstalletjies:- Afskrif van Identiteitsdokument of geldige werkspermit (indien u nie ʼn Suid Afrikaanse burger is nie).
- Bewys van woonadres (nie ouer as drie maande nie).
- Visuele materiaal van die produk (selfs al het u voorheen by Aardklop uitgestal). Indien u die produk self vervaardig, die materiaal wat gebruik word in die vervaardigingsproses.
- Afskrif van ʼn tweedehandse-handelaar sertifikaat (waar van toepassing).
- Bewys van betaling van administrasiefooi.
- Afskrif van Identiteitsdokument of geldige werkspermit (indien u nie ʼn Suid Afrikaanse burger is nie).
- Bewys van woonadres (nie ouer as drie maande nie).
- Visuele materiaal van die produk (selfs al het u voorheen by Aardklop uitgestal). Indien u die produk self vervaardig, die materiaal wat gebruik word in die vervaardigingsproses.
- Spyskaart (waar van toepassing).
- Afskrif van ‘n geldige sertifikaat van aanvaarbaarheid om voedsel te verkoop. Applikante moet op eie koste aansoek doen by die JB Marks Munisipaliteit (aansoekvorms sal verskaf word).
- Afskrif van ʼn geldige gas-sertifikaat (waar van toepassing).
- Bewys van betaling van administrasiefooi.
Goedkeuring en Kennisgewing:
- Alle aansoeke is onderhewig aan goedkeuring.
- Voorkeur sal gegee word aan aansoeke van vorige Aardklop-stalletjiehouers, maar goedkeuring word nie gewaarborg nie.
- Besluite geneem deur die Aardklop Keuringskomitee is finaal.
- Aansoekers sal na die sluitingsdatum (16 Mei 2025) per e-pos kennisgewing van die keuringskomitee se besluit ontvang.
- Telefoniese navrae of besware rakende aansoek-uitkomste sal nie toegelaat word nie.
- Indien ʼn aansoeker nie teen 30 Mei 2025 kennisgewing oor hul aansoek-status ontvang het nie, kan hulle die Aardklop Stalletjie (Kunsmark)-koördineerder, Yvette Lombard, kontak by [email protected].
Betalings en Kansellasies:
- Sodra die aansoek goedgekeur is, sal die applikant ʼn faktuur vir die verskuldigde huurbedrag van Aardklop ontvang. Hierdie faktuur moet voor of op 29 Julie 2025 vereffen word.
- Die finale betaling van die uitstaande huurbedrag moet voor of op 25 Augustus 2025 betaal word.
- Stuur asseblief bewys van betaling per e-pos na [email protected].
- Nadat die volle betaling ontvang is, sal die terreinkaart met plasings aan die aansoeker verskaf word. Let wel: dit is slegs van toepassing op spasies binne die markiestente.
- Borge sal voorkeurbehandeling ontvang tydens die toekenning en plasing van stalletjies.
- Slegs direkte bankdeposito’s of EFT-betalings word aanvaar.
- Indien die stalletjie se huurgeld reeds betaal is en die stalletjiehouer kies om die huurooreenkoms 30 dae voor die aanvang van die fees te kanselleer, sal 50% van die totale huurgeld as ʼn kansellasiefooi teruggehou word.
- Indien die stalletjiehouer binne 21 dae voor die aanvang van die fees kanselleer, word die volle bedrag as kansellasiefooi teruggehou.
- Kansellasie-aansoeke moet skriftelik gedoen word en aan Aardklop gestuur word by [email protected].
Stalletjies en Verwante Kostes:
Alle kostes is van toepassing op die hele week van die fees en sluit BTW in.
Buitelugstalletjies:
- In die aanlyn portaal dui die aansoeker die spasie-grootte aan wat benodig word, waarna die verwante huurgeld bereken word @ R700.00 per m² (BTW ingesluit). ʼn Kragtoevoerpunt word nie voorsien nie en kan teen ‘n addisionele koste verkry word.
Enkel-fase kragtoevoerpunt @ R1200.00 (BTW ingesluit) vir die hele tydperk van die fees.
Drie-fase kragtoevoerpunt @ R2500.00 (BTW ingesluit) vir die hele tydperk van die fees.
Kosstalletjies: (‘n tenderproses sal gevolg word)
- In die aanlyn portaal dui die aansoeker die spasie-grootte aan wat benodig word en die bedrag per m² wat aangebied word. ʼn Kragtoevoerpunt word nie voorsien nie en kan teen ʼn addisionele koste verkry word.
Enkel-fase kragtoevoerpunt @ R1200.00 (BTW ingesluit) vir die hele tydperk van die fees.
Drie-fase kragtoevoerpunt @ R2500.00 (BTW ingesluit) vir die hele tydperk van die fees.
Algemene riglyne:
- Maak asseblief seker dat jy in die berekening van die grootte van die uitstalruimte voorsiening maak vir tentpale/penne, afdakke, sleepwa/woonwa-haak, advertensieborde, aanpaskamers, ensovoorts.
- Geen voertuie of bykomende sleepwaens mag tussen stalletjies gestoor word nie.
- Stalletjiehouers mag slegs binne die grense van die uitstalruimte handeldryf of adverteer.
- Aardklop aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige foutiewe inligting wat deur die applikant verskaf word met betrekking tot die grootte of beskrywing van die stalletjies in die aansoekproses nie.
Kunsstalletjies (markiestente):
- Standaard stalletjie – 3 x 3 meter (9m²) @ R6 300.00 Die verkooppunt is 3 meter lank.
ʼn Kragtoevoerpunt word voorsien en is reeds by die prys ingesluit. - Standaard hoek stalletjie – 3 x 3 meter (9m²) @ R7 900.00. Die verkooppunt is 6 meter lank.
ʼn Kragtoevoerpunt word voorsien en is reeds by die prys ingesluit. - Hoek stalletjie – 2 x 4 meter (8m²) @ R7 500.00. Die verkooppunt is 6 meter lank.
ʼn Kragtoevoerpunt word voorsien en is reeds by die prys ingesluit. - Aaneenlopende een-en-ʼn-halwe stalletjie – 3 x 4.5 meter (13.5m²) @ R9 300.00.
Die verkooppunt is 4.5 meter lank. ʼn Kragtoevoerpunt word voorsien en is reeds by die prys ingesluit. - Aaneenlopende een-en-ʼn-halwe hoek stalletjie – 3 x 4.5 meter (13.5m²) @ R11 500.00.
Die verkooppunt is 7.5 meter lank. ʼn Kragtoevoer punt word voorsien en is reeds by die prys ingesluit.
Hierdie kragtoevoerpunte is slegs bedoel vir ligte elektriese toerusting soos beligting, kaartmasjiene, waaiers en selfoonlaaiers.
Infrastruktuur van Stalletjies:
- Stalletjies in die markiestente word geskei deur ʼn oop-raam-konstruksie van 20 mm staalpyp. Die standaard stalletjie konstruksie is 2 meter hoog, 3 meter breed en 3 meter diep, en die aaneenlopende een-en-‘n-half stalletjie is 2 meter hoog, 4,5 meter breed en 3 meter diep. Die stalletjiehouer is verantwoordelik vir die grondbedekking en sybedekkings van die stalletjie en bykomende versterkings van die staalpyp raamwerk indien nodig. Die raam kan ongeveer 40 kg gewig dra.
- Aardklop verskaf nie infrastruktuur vir buitelug stalletjies nie, slegs uitstalruimte.
Algemene riglyne:
- Die stalletjiehouer sal verantwoordelik gehou word vir enige skade aangerig aan die eiendom of infrastruktuur van Aardklop of sy verskaffers. ʼn Faktuur vir die herstelkoste van sodanige skade sal aan die stalletjiehouer uitgereik word, wat binne 30 dae vereffen moet word.
- Stalletjies mag nie verskuif word nie.
- Stalletjies mag nie buite die gemerkte area uitgebrei word nie.
- Die infrastruktuur van stalletjies moet altyd netjies, skoon en in ʼn goeie toestand wees.
Produkte:
- In die aanlyn portaal dui die aansoeker die hoofkategorie van die produk en die spesifieke produkte op die aansoekvorm aan.
- Die hoofkategorie van die produkte en die individuele produkte mag onder geen omstandighede verander word sonder die toestemming van Aardklop nie. Stalletjiehouers mag slegs daardie produkte verkoop of uitstal wat Aardklop goedgekeur het.
- Enige veranderinge aan die hoofkategorie van die produkte of die individuele produkte moet skriftelik by Aardklop ([email protected]) ingedien word vir goedkeuring.
- Produkte met rassistiese, diskriminerende of seksistiese boodskappe sal nie toegelaat word nie.
- Alle produkte moet van hoë gehalte wees.
- Aardklop sal poog om die duplisering van soortgelyke produkte wat by die fees verkoop of uitgestal word, tot die minimum te beperk.
Algemeen:
Borge
- Aardklop het ooreenkomste met verskeie borge. Stalletjiehouers is dus nie geregtig om borge by of in hul stalletjies te adverteer of te aktiveer nie.
- Potensiële borge kan direk met Aardklop skakel indien hulle betrokke wil raak.
Handelsure
- Stalletjies moet deurlopend handel dryf vanaf Dinsdag, 7 Oktober 2025, tot Saterdag, 11 Oktober 2025, tussen 09:00 en 21:00.
- Geen voertuie word gedurende handelsure op die terrein of in die afgesperde gebied toegelaat nie.
Sekuriteit en risiko
- Die veiligheid en sekuriteit van die voorraad is die uitsluitlike verantwoordelikheid van die stalletjiehouer. Stalletjiehouers wat verkies om hul voorraad oornag op die feesterrein te los, doen dit op eie risiko. Alhoewel Aardklop sekuriteitswagte op die perseel ontplooi, is dit belangrik om te beklemtoon dat Aardklop nie aanspreeklikheid aanvaar vir enige diefstal of enige ander skade wat ʼn stalletjiehouer tydens die fees mag ly nie. Ons raai alle stalletjiehouers sterk aan om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om hul besittings te beskerm.
- Geen persone sal toegelaat word om in ʼn stalletjie te bly of oornag nie. Hierdie reël sal streng toegepas word, en oortreders sal dadelik van die perseel verwyder word.
Toegangspermitte en parkering vir stalletjiehouers
- Stalletjiehouers sal toegangspermitte en parkeerskyfies ontvang wat vir die hele duur van die fees geldig sal bly.
- Die toegangspermitte sal armbandjies wees en moet voortdurend gedra word.
Toekenning hiervan is soos volg:
Kuns- en kunsvlytstalletjies
- Stalletjiehouers sal twee (2) toegangspermitte en twee (2) parkeerskyfies ontvang.
Kosstalletjies
- Stalletjiehouers sal vier (4) toegangspermitte en twee (2) parkeerskyfies ontvang.
Bykomende permitte kan aangekoop word indien nodig. Stel Aardklop betyds in kennis van die hoeveelheid wat jy wil bekom.