Oor Aardklop

“Baie van ons voel vuivoos, moeg geploeg en vrot gebombardeer deur korrupsie, swak dienslewering, afgesaagde retoriek en leë verkiesingpropaganda. By tye mag dit dalk voel asof daar slaggate om elke hoe ken draai is. Dit is juis in só klimaat dat die kunste meer nodig en relevant as ooit raak. Dit bied ons die geleentheid vir saam praat, dink, wonder, bewonder, lag en om positief en opbouend met mekaar om te gaan. Dit is presies wat Aardklop bied – ‘n kans om ons batterye saam vriende en familie te herlaai. Kom, word deel van die kunsrevolusie en kom fees vry saam met ons. Dit is mos nou ‘n veldtog om te ondersteun. Viva!”
– Alexa Strachan, AARDKLOP Hoof Uitvoerende Beampte. 

Kort oorsig oor Aardklop

Aardklop is ʼn jaarlikse Suid-Afrikaanse kunstefees wat in Potchefstroom, Suid-Afrika, gehou word. Potchefstroom was nog altyd ʼn kultuurstad en tuiste vir verskeie welbekende Suid-Afrikaanse skrywers en kunstenaars. Die bewoording van verskeie Afrikaanse volksliedjies en -verhale verwys ook na die dorp.

Aardklop Nasionale Kunstefees bestaan sedert 1998 en het sedertdien ʼn vesting van kunste en kultuur in Suid-Afrika geword. Die fees sluit hoofsaaklik, maar nie uitsluitlik nie, Afrikaanse teater, musiek, kabaret en kinderteater kunsvorms in, wat in ʼn verskeidenheid lokale oor die dorp heen aangebied word. Feesgangers kan ook uitsien na ’n uitgebreide gesprekkereeks wat fokus op landbou- en aktuele sake. Boekgesprekke, visuele kuns aanbiedings en ’n groot verskeidenheid proe-ervarings vorm ook deel van die fees se omvattende program.

ʼn Reuse kunsvlytmark en opelug-aanbiedings vorm ook ʼn integrale deel van die fees. Die geleentheid lok jaarliks meer as 700 kunstenaars oor ʼn tydperk van des dae.

Die fees speel nie net ʼn baie groot rol in die plaaslike ekonomie van Potchefstroom nie, maar dra ook grootliks by tot die ekonomie van die groter Noordwesprovinsie.