Verwelkoming Momentum Beleggings Aardklop 2023
Potchefstroom 3-8 Oktober

Alexa Strachan
Feesbestuurder
Kantoorwoorde
Baie welkom by ons eerste volwaardige fees sedert 2019.
Op 3 tot 8 Oktober lei alle paaie na Potchefstroom!
Dankie aan elke persoon en instansie wat in ons bly glo het, en ons ondersteun het in ’n tydperk wat die kunste en kunstenaars onder beleg was. In die besonder dankie aan veral die NWU-Potchefstroomkampus en Media24 in dié verband.
En dan natuurlik aan Momentum Beleggings – julle voel nou al vir ons soos familie by die kantoor.
Ons program is saamgestel om aan elke feesganger en kaartjiekoper iets te bied: Jy kan bloot kom ontspan by die feesterrein; of jy kan jouself verloor in die allermooiste musiekteater; skaterlag vir komedies; besin oor waar ons as unieke Suid-Afrikaanse samelewing ons bevind; saampraat tydens ons gesprekke of in verwondering staan voor ’n kunswerk.
Koop jou kaartjie vir Karen Zoid en vir Nataniël, jy weet mos jy gaan nie spyt wees nie. Kom giggel saam met Alfred Adriaan en Magda Louw.
Loer gerus na teaterproduksies soos Die moeder, Mirakel, Hoerkind, Mixtape van die liefde en Droomwerk wat elders opslae gemaak het. Jy gaan van hierdie produksies waarskynlik nie in teaters naby jou te siene kry nie.
Let ook veral op na ons debuutwerke soos Goed wat wag om te gebeur, 1, en Die vrou op die dak. Daag jouself uit en koop ’n kaartjie vir ’n produksie waarvan jy nie noodwendig die akteurs ken nie!
Maar wat jy en jou hele gesin régtig nie moet misloop nie, is die sprokiesagtige Braam en die engel, deur die bekroonde teatermaker Nico Scheepers, met onder andere Joanie Combrink, De Klerk Oelofse en Rehane Abrahams. Hierdie werk sal jou laat ontvlug, in vervoering laat, en weer laat glo in die krag van vriendskap en hoop.
Sluit dan jóú Aardklop-fees Sondag af by die Langtafel en met die tradisionele koor-en-orkesuitvoering in die Beeld Ouditorium, Calling All Dawns!
Intussen hoop ons julle spaargeld hou nog ná die installasie van sonpanele, want om jou sielsbatterye te herlaai, is net so belangrik. Feesgangers, ons tref voorbereiding vir beurtkrag sodat julle saam kan kom feesvier!
Oos wes, Aardklop bes!
Alexa

Prof. Daryl Balia
Voorsitter: Aardklop-direksie
Dis 25 jaar later en Aardklop staan steeds sterk
Dit is weer daardie tyd van die jaar en Potchefstroom begin sy vere regskud – 25 jaar nadat die eerste Aardklop Nasionale Kunstefees aangebied is. En op die einste Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit waar gehalte en uitnemendheid steeds saakmaak. Ek is oortuig daarvan Aardklop deel hierdie visie en daarom is dit vir ons lekker om met die Momentum Beleggings Aardklop Nasionale Kunstefees geassosieer te word.
We also share in Aardklop’s excitement and passion for the arts, creativity and lively interpretations of our society. This year the cooperation between Aardklop and the North-West University is further strengthened by the fact that numerous productions are presented in facilities of the NWU-Potchefstroom campus. Aardklop, once again welcome in our midst as we celebrate our long-standing partnership!
Dis daarom vir my heerlik om Aardklop en Momentum Beleggings terug te verwelkom in Potchefstroom. Mag die aarde dreun, die pitte spat, die seer voete vinnig herstel en die aanbiedinge almal reg in die kol wees. Geniet dit, en hou net die lekkerste herinneringe oor!
Sterkte aan Momentum Beleggings Aardklop se bestuurspan en direksie met die 2023-fees! Dankie aan die NWU-personeel en -studente vir hul onbaatsugtige hulp en ondersteuning!

Dr. Fränzo Friedrich
Hoof van Bemarking: Momentum Beleggings
Momentum Beleggings is opgewonde en trots om weer vir Aardklop – ’n nasionale kultuurbate vir Suid-Afrika – te borg.
Ek en almal by Momentum Beleggings sien uit na die wonderlike teater- en musiekproduksies wat ons weet vanjaar weer gehore gaan vermaak, inspireer, laat dink, laat huil en laat lag.
Dit is vir Momentum Beleggings ’n vreugde en voorreg om deel te wees van Aardklop en om die kunste in Suid-Afrika te ondersteun. Nes beleggings by ons persoonlik is, is niks méér persoonlik as om die kunste in lewende lywe te geniet nie.
Aardklop is terug met mening en ons is vol vertroue dat die fees net van krag tot krag sal gaan. Ons sien uit na ons voortgesette vennootskap en om die interessante en opwindende pad saam met die bestuur van Aardklop te stap.
Momentum Beleggings Aardklop 2023: Hier kom ons!