Dis g’n fopnuus dié nie

Dagsê ’klopper

Die wêreld gons oor KI, en sien is al hoe minder glo wanneer dit by die interwebs kom. Maar daar’s een ding wat nooit KUNSmatig sal wees nie: Momentum Aardklop.

Ondanks die spoed waarteen oëverblindery die laaste paar jaar ontwikkel het, is daar steeds niks wat kan kers FEEShou by ’n verhoogervaring in lewende lywe nie, maak nie saak hoe slim selfs die slimste blikbreine raak nie.

In ander nuus: kan jy glo dis al Juniemaand?! Waar gaan die tyd heen? Die lekker ding is dit beteken ons is ook nader aan Oktober – en nader aan Momentum Aardklop.

Hier in die feeskantoor in Potchefstroom gaan dit wilder as die wildtuin soos daar gedink, gedroom, beplan en gedoen word. Want binnekort* word die feesprogram amptelik bekendgestel, en dan kan jy maar die kredietkaart uithaal en begin kaartjies koop!

’n Kunstefees gebeur nie in ’n vakuum nie. Dit help nie veel die akteurs en tegniese span is in die teater, maar daar’s niemand om die kaartjies te neem nie. En sonder stalletjies is ’n feesterrein net ’n terrein.

Dus wil Momentum Aardklop jou hê. Verkoop jy dalk iets? Of is jy of iemand wat jy ken na tydelike werk op soek? Aansoeke vir albei is nou oop. Haas jou dus na ons webwerf waar jy nog kan aansoek doen om óf ’n stalletjie by die fees te hê óf ’n tydelike werknemer te wees.

Let wel: Aansoeke om tydelike werk sluit 15 Augustus 2025 en onderhoude word vanaf 20 Augustus geskeduleer.

Tik-tok, daar’s net soveel tyd oor om te klik-klik – kom word deel van die Momentum Aardklop-kunsfamilie.

Sodra die program bekendgestel is, open die kaartjieverkope ook. Potchefstromers en Hartsvriende kan al van 13 Junie begin kaartjies koop. (Moenie afKUNStig wees nie – jy kan ook ’n Hartsvriend word, klik net hier.)

Almal anders moet net ’n klein bietjie wag, want algemene kaartjieverkope open op 16 Junie.

Terloops . . .

As daar nou iemand is wat intiem vertroud is met die kuns van lag, is dit Magda Louw. Sy’s ook geen vreemdeling by Aardklop nie, en vanjaar bring sy haar ou korrelkop Erhard ook saam. Hulle’s so opgewonde, hulle’t sommer ’n video gemaak.

Volg ons op sosiale media vir die kraakvarsste van vars nuus oor die fees.

Ons gesels spoedig weer!

#MomentumAardklop2025 #DieKunsVanFees

Scroll to Top