Stalletjie-aansoeke

Momentum Beleggings Aardklop 2024

Beste stalletjiehouer,

Dankie dat jy belangstel om by Aardklop 2024 uit te stal.

Aardklop vind van 24 tot 29 September 2024 in Potchefstroom plaas. Die hooffeesterrein is op die Fanie du Toit-sportterrein van die Noordwes-Universiteit geleë en sal oop wees vanaf 24 tot 28 September 2024.

Om teleurstelling te voorkom, neem asseblief ’n oomblik om hierdie inligtingstuk sorgvuldig deur te lees. Dit is uiters belangrik dat jy vertroud is met al die datums en die bepalings en voorwaardes wat verband hou met die aansoekproses.

Belangrike Datums:

8 Maart 2024

Aansoeke vir stalletjies open

17 Mei 2024

Aansoeke vir stalletjies sluit

19 Mei 2024

Bevestiging van ontvangs van aansoeke

25 Mei 2024

Uitslag van keuring

28 Julie 2024

Betaling van die deposito op die stalletjiehuurfaktuur (sien asb. “Betaling”)

30 Augustus 2024

Finale vereffening van alle uitstaande stalletjiehuurkoste

23 September 2024

Oprigting van stalletjies op die feesterrein

29 September 2024

Ontruiming en verwydering van stalletjies vanaf feesterrein

Algemene Bepalings en Voorwaardes:

  • Om die administratiewe koste verbonde aan die verwerking en keuring van ’n aansoek te dek, word ’n nieterugbetaalbare administrasiefooi van R280 (BTW ingesluit) per aansoek eenmalig gehef.
  • Indien die aansoek goedgekeur word, sal die huurooreenkoms tussen Aardklop en die stalletjiehouer geldig wees vir die duur van die fees.
  • Aansoeke wat ná die sluitingsdatum ingedien word, sal slegs verwerk word indien uitstalruimte beskikbaar is en daar aan die keuringsvereistes soos hieronder uiteengesit voldoen word.

Aansoek Voorwardes:

Slegs aansoeke wat aan die volgende vereistes voldoen, sal in aanmerking geneem word vir keuring:

  • Die aanlyn aansoekvorm is volledig en korrek voltooi.
  • Alle vereiste dokumentasie is by die aansoekvorm aangeheg.
  • Bewys dat die administratiewe aansoekfooi ten volle betaal is, is by die aansoekvorm aangeheg.

Die Aansoekproses:

Nadat jou profiel op die aanlyn portaal geskep is, sal jy deurlopend digitale kommunikasie ontvang met betrekking tot die status van die aansoek en enige verdere stappe wat moontlik geneem moet word.

  1. Aansoeke moet voor die voorgeskrewe sluitingsdatum ingedien word.
  2. Klik op die skakel.
  3. Skep eenmalig ‘n aanlyn profiel.
  4. Kies die verlangde tipe stalletjie(s) en voltooi die vraelys volledig.
  5. Betaal die verlangde administrasiefooi (EFT of direkte bankdeposito).

NB! Gebruik jou kliëntekode as verwysing. Jy kan jou kliëntekode vind deur in die aanlyn portaal aan te meld, na jou profiel te navigeer en op “Profile” te klik.

Bank Besonderhede:

Rekeninghouer:

Potchefstroom Kunstefees NPC

Bank:

ABSA

Tipe rekening:

Tjek

Universele takkode:

632005

Rekeningnommer:

4089694919

Verwysing:

Gebruik die kliëntekode wat geskep is in die aanlyn portaal.

  1. Heg die vereiste dokumentasie (hieronder gelys) en die bewys van betaling van die administrasiefooi by die aansoek aan.
  2. Bevestig dat jy die bepalings en voorwaardes aanvaar.

Vereiste Dokumentasie

Heg die onderstaande dokumentasie aan by die aansoek:

Kuns- en kunsvlytstalletjies:

  • ’n Afskrif van jou identiteitsdokument of ’n geldige werkpermit (indien jy nie ’n Suid- Afrikaanse burger is nie).
  • Bewys van woonadres (nie ouer as drie maande nie).
  • Visuele materiaal van die produk (selfs al het jy voorheen by Aardklop uitgestal). Indien jy die produk self vervaardig, visuele materiaal van die vervaardigingsproses.
  • Afskrif van ’n sertifikaat as ’n tweedehandse handelaar (indien van toepassing).
  • Bewys van betaling van administrasiefooi.

Kosstalletjie:

  • ’n Afskrif van jou identiteitsdokument of geldige werkpermit (indien jy nie ’n Suid-Afrikaanse burger is nie).
  • Bewys van woonadres (nie ouer as drie maande nie).
  • Spyskaart.
  • Foto’s van die stalletjie indien beskikbaar.
  • Afskrif van ’n geldige voldoeningsertifikaat om voedsel te verkoop. Stalletjiehouers moet op eie koste aansoek doen by die JB Marks-munisipaliteit (aansoekvorms sal verskaf word).
  • Afskrif van ’n geldige gassertifikaat (waar van toepassing).
  • Bewys van betaling van administrasiefooi.

Goedkeuring en Kennisgewing:

  • Alle aansoeke is onderhewig aan goedkeuring.
  • Voorkeur sal gegee word aan aansoeke van vorige Aardklop-stalletjiehouers, maar keuring word nie gewaarborg nie.
  • Besluite geneem deur Aardklop is finaal, geen verdere korrespondensie sal oor die uitslae hanteer word nie.
  • Aansoekers sal ná die sluitingsdatum (17 Mei 2024) per e-pos ’n kennisgewing rakende Aardklop se keuring ontvang.
  • Indien jy nie teen 31 Mei 2024 ’n kennisgewing oor jou aansoekstatus (goed- of afkeuring) ontvang het nie, kontak Yvette Lombard by [email protected].
  • Sodra die aansoek goedgekeur is, sal die stalletjiehouer ’n faktuur vir die verskuldigde huurbedrag vanaf Aardklop ontvang. Stalletjiehouers word die kans gegun om hul huurbedrag in twee paaiemente te vereffen indien hulle dit so verkies. Die eerste afsnydatum vir ’n 50%- deposito is 28 Julie 2024 en die finale betaling van die uitstaande huurbedrag moet voor of op 30 Augustus 2024 gedoen word.
  • Stuur asseblief bewyse van betaling per e-pos na [email protected].
  • Nadat die volle betaling ontvang is, sal die terreinkaart met plasings aan die aansoeker verskaf word. Let wel: Dit is slegs van toepassing op ruimtes binne die markiestente.
  • Borge sal voorkeurbehandeling ontvang tydens die toekenning en plasing van stalletjies.
  • Slegs regstreekse bankdeposito’s of EFT-betalings word aanvaar.

NB! Gebruik jou kliëntekode as verwysing. Jy kan jou kliëntekode vind deur by die aanlyn portaal aan te meld, na jou profiel te navigeer en op “Profile” te klik.

Bank Besonderhede:

Rekeninghouer:

Potchefstroom Kunstefees NPC

Bank:

ABSA

Tipe rekening:

Tjek

Universele takkode:

632005

Rekeningnommer:

4089694919

Verwysing:

Gebruik die kliëntekode wat geskep is in die aanlyn portaal

  • Indien die stalletjie se huurgeld reeds betaal is en die stalletjiehouer kies om die huurooreenkoms 30 dae voor die aanvang van die fees te kanselleer, sal 50% van die totale huurgeld (plus BTW) as ’n kansellasiefooi teruggehou word.
  • Indien die stalletjiehouer binne 21 dae voor die aanvang van die fees kanselleer, word die volle bedrag as kansellasiefooi teruggehou.
  • Kansellasie-aansoeke moet skriftelik gedoen word en aan Aardklop gestuur word by [email protected].

Stalletjies en Verwante Kostes:

Buitelugstalletjies:

  • In die aanlyn portaal dui die aansoeker die grootte van die ruimte aan wat benodig word, waarna die verwante huurgeld bereken word @ R700 per m² (BTW ingesluit). ’n Kragtoevoerpunt word nie voorsien nie en kan teen ’n bykomende koste verkry word.

    Enkelfase-kragtoevoerpunt @ R1 200.00 (BTW ingesluit).
    Driefase-kragtoevoerpunt @ R2 500.00 (BTW ingesluit).

Kosstalletjies: (‘n tenderproses sal gevolg word)

  • In die aanlyn portaal dui die aansoeker die grootte van die ruimte aan wat benodig word en die bedrag per m² wat aangebied word. ’n Kragtoevoerpunt word nie voorsien nie en kan teen ’n bykomende koste verkry word.

    Enkelfase-kragtoevoerpunt @ R1 200 (BTW ingesluit).
    Driefase-kragtoevoerpunt @ R2 500 (BTW ingesluit).

Kunsstalletjies (markiestente):

  • Standaardstalletjie – 3 x 3 m (9 m²) @ R6 300 (BTW ingesluit). Die verkooppunt is 3 m lank.
    ’n Kragtoevoerpunt word voorsien en is reeds by die prys ingesluit.
  • Standaardhoekstalletjie – 3 x 3 m (9 m²) @ R7 900 (BTW ingesluit). Die verkooppunt is 6 m lank.
    ’n Kragtoevoerpunt word voorsien en is reeds by die prys ingesluit.
  • Aaneenlopende een-en-’n-halwe stalletjie – 3 x 4,5 m (13,5 m²) @ R9 300 (BTW ingesluit).
    Die verkooppunt is 4,5 m lank. ’n Kragtoevoerpunt word voorsien en is reeds by die prys ingesluit.
  • Aaneenlopende een-en-’n-halwe hoekstalletjie – 3 x 4,5 m (13,5 m²) @ R11 500 (BTW ingesluit).
    Die verkooppunt is 7,5 m lank. ’n Kragtoevoerpunt word voorsien en is reeds by die prys ingesluit.

Hierdie kragtoevoerpunte is slegs bedoel vir ligte elektriese toerusting soos beligting, kaartmasjiene, waaiers en selfoonlaaiers.

Die Aardklop-winkel:

Die Aardklop-winkel is ’n nuwe Aardklop-konsep soortgelyk aan ander markte en feeste se model. Hierdie stalletjies gee kuns- en kunsvlytstalletjiehouers die geleentheid om uit te stal in die gevalle waar hul nie self die stalletjie vir die volle tydperk van die fees kan beman nie. Die winkel dryf handel vanuit ’n gemeenskaplike tent en het beperkte ruimte. Die winkel het ’n gemeenskaplike betaalpunt en kaartmasjiene met skandering van die stalletjiehouer(s) se produkte. Voorraad sal met die stelsel gerekonsilieer word en uitbetalings sal eenmalig binne ’n week ná afloop van die fees geskied. Dit bly die stalletjiehouer(s) se verantwoordelikheid om die stalletjie se voorraad aan te vul waar nodig. Aardklop verskaf sekuriteit en algemene tentwerkers om die winkel te patrolleer en betaalpunte te beman. Verdere inligting kan by die stalletjiekoördineerder verkry word by [email protected].

  • ’n Kommissie van 15% van die omset is aan Aardklop betaalbaar.
  • Standaardstalletjie – 2 x 1,5 m (3 m²) @ R2 500 (BTW ingesluit). Prys sluit vertoonruimte en ’n sentrale verkooppunt in. ’n Kragtoevoerpunt word nie voorsien nie en kan teen ’n bykomende koste verkry word.

Enkelfase-kragtoevoerpunt @ R1 200 (BTW ingesluit).
Driefase-kragtoevoerpunt @ R2 500 (BTW ingesluit).

Infrastruktuur van Stalletjies en Algemene Riglyne:

  • Stalletjies in die markiestente word geskei deur ʼn oopraam-konstruksie van 20 mm-staalpyp. Die standaardstalletjie-konstruksie is 2 m hoog, 3 m breed en 3 m diep, en die aaneenlopende een-en-’n-halwe stalletjie is 2 m hoog, 4,5 m breed en 3 m diep. Die stalletjiehouer is verantwoordelik vir die grondbedekking en sybedekkings van die stalletjie en bykomende versterkings van die staalpypraamwerk, indien nodig. Die raam kan ongeveer 40 kg gewig dra.
  • Aardklop verskaf nie infrastruktuur vir buitelugstalletjies nie, slegs uitstalruimte.
  • Maak asseblief seker dat jy in die berekening van die grootte van die uitstalruimte voorsiening maak vir tentpale en -penne, afdakke, sleepwa-/waentjie-haak, advertensieborde, aanpashokkies, ensovoorts.
  • Geen voertuie of bykomende sleepwaens mag tussen stalletjies gestoor word nie. Veilige, gereserveerde parkering sal vir stalletjiehouers en sleepwaens beskikbaar gestel word.
  • Stalletjiehouers mag slegs binne die grense van die uitstalruimte handel dryf of adverteer.
  • Aardklop aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige foutiewe inligting wat deur die aansoeker verskaf word met betrekking tot die grootte of beskrywing van die stalletjies in die aansoekproses nie.
  • Die stalletjiehouer sal verantwoordelik gehou word vir enige skade aangerig aan die eiendom of infrastruktuur van Aardklop of sy verskaffers. ’n Faktuur vir die herstelkoste van sodanige skade sal aan die stalletjiehouer uitgereik word, wat binne 30 dae vereffen moet word.
  • Stalletjies mag nie verskuif word nie.
  • Stalletjies mag nie buite die gemerkte area uitgebrei word nie.
  • Die infrastruktuur van stalletjies moet altyd netjies, skoon en in ’n goeie toestand wees.

Produkte:

  • In die aanlyn portaal dui die aansoeker die hoofkategorie van die produk en die spesifieke produkte op die
    aansoekvorm aan.
  • Die hoofkategorie van die produkte en die individuele produkte mag onder geen omstandighede verander word sonder die toestemming van Aardklop nie. Stalletjiehouers mag slegs die produkte verkoop of uitstal wat Aardklop
    goedgekeur het.
  • Enige versoeke rakende veranderinge aan die hoofkategorie van die produkte of die individuele produkte moet skriftelik by [email protected] ingedien word vir goedkeuring.
  • Produkte met rassistiese, diskriminerende, aanstootlike of seksistiese boodskappe sal nie toegelaat word nie.
  • Alle produkte moet van hoë gehalte wees.
  • Aardklop sal poog om die duplisering van soortgelyke produkte wat by die fees verkoop of uitgestal word tot die minimum te beperk.

Algemeen:

Borge

  • Aardklop het ooreenkomste met verskeie borge. Stalletjiehouers is dus nie geregtig om borge by of in hul stalletjies te adverteer of aktivering te doen nie.
  • Potensiële borge kan regstreeks met Aardklop skakel indien hulle betrokke wil raak.

Handelsure

  • Stalletjies moet deurlopend handel dryf vanaf Dinsdag 24 September 2024 tot Saterdag 28 September 2024 tussen 09:00 en 21:00.
  • Geen voertuie word gedurende handelsure op die terrein of in die afgesperde gebied toegelaat nie.

Sekuriteit en risiko

  • Die veiligheid en sekuriteit van die voorraad is die uitsluitlike verantwoordelikheid van die stalletjiehouer. Stalletjiehouers wat verkies om hul voorraad oornag op die feesterrein te los, doen dit op eie risiko. Alhoewel Aardklop-sekuriteitswagte op die perseel ontplooi, is dit belangrik om te beklemtoon dat Aardklop nie aanspreeklikheid aanvaar vir enige diefstal of enige ander skade wat ’n stalletjiehouer tydens die fees mag ly nie. Ons raai alle stalletjiehouers sterk aan om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om hul besittings te beskerm.
  • Geen persone sal toegelaat word om in ’n stalletjie te bly of te oornag nie. Hierdie reël sal streng toegepas word, en oortreders sal dadelik van die perseel verwyder word.

Toegangspermitte en parkering vir stalletjiehouers

  • Stalletjiehouers sal toegangspermitte en parkeerskyfies ontvang wat vir die hele duur van die fees geldig sal bly.
  • Die toegangspermitte is in die vorm van armbandjies en moet voortdurend gedra word.

Toekenning hiervan is soos volg:

Kuns- en kunsvlytstalletjies

  • Stalletjiehouers sal twee (2) toegangspermitte en twee (2) parkeerskyfies ontvang.

Kosstalletjies

  • Stalletjiehouers sal vier (4) toegangspermitte en twee (2) parkeerskyfies ontvang.

Aardklop-winkel

  • Stalletjiehouers sal een (1) toegangspermit en een (1) parkeerskyfie ontvang.

Bykomende permitte kan aangekoop word indien nodig. Stel Aardklop betyds in kennis van die hoeveelheid wat jy wil bekom.

Scroll to Top