Voorwoord
Momentum Beleggings het die laaste drie jaar as naamborg die pad gestap saam met die Aardklop kunstefees. Toe ons daardie eerste jaar die fees saam met Alexa en haar span in drie stede beleef het, reg na die inperkingstyd van die Covid pandemie, sou ons nooit kon dink dat die fees so sou groei en talle mense in Noord-Wes, Gauteng en die Vrystaat sou raak nie.
Elke jaar was ‘n nuwe belewenis, met Potch weer die laaste twee jaar die setel van die kunste in die Noorde. Ons het saam gelag, gehuil en geboogie by die teaters en die feesterrein en vele vriende op hierdie reis gemaak. Dit is dus vir my persoonlik ‘n effense bittersoet oomblik dat Momentum Belegging nie alleenlik meer die naamborg kan wees nie, maar ek weet ook dat ons met die ondersteuning van die hele Momentum Groep hierdie jaar dit ekstra spesiaal kan maak.

Fränzo Friedrich, Momentum Beleggings
Momentum Beleggings Aardklop was altyd meer as ‘n mondvol, so die nuwe Momentum Aardklop rol nogal lekker van die tong af. Ek is persoonlik al meer as 26 jaar werksaam by die Momentum Groep en ons kultuur van omgee en hoe ons belê in ons mense en die gemeenskappe wat ons dien, is een van die redes hoekom ek elke dag met ‘n blydskap werk toe gaan.
Aardklop het momentum opgebou gedurende hierdie laaste drie jaar en met hierdie nuwe verwikkeling gaan Momentum Aardklop net voortbou op daardie momentum. Ons sien uit daarna om ons kollegas aan almal hier voor te stel gedurende die fees
en te bou op die diep verhoudings wat reeds bestaan.
Alhoewel daar ‘n tipe bloudruk en strategie bestaan wat deur Alexa en span
bewimple is, is elke Aardklop uniek met nuutskeppings, nuwe gesigte op die verhoog en verrassende nuwe aanslagte met produksies. Ons is baie opgewonde om te sien wat hierdie jaar se program behels en om saam met almal te kuier. Ek wil ook net hierdie geleentheid gebruik om vir ‘n paar van my spanlede dankie te sê vir hulle passie, toewyding en harde werk die laaste paar jaar. René, Jonathan en die span van Siyanda, baie dankie vir die energie en toewyding. Julle sou nooit kon dink julle sou so ingeslurp raak in die Afrikaanse kultuurwêreld nie, of hoe?
Kom ons Laat die Aarde klop met Momentum in 2025!